ADVERTISEMENT:

 

Piet en Tillie Lourens van Levubu, wat Sondag 'n gewapende roof oorleef het. By die egpaar is hulle worshondjie, Worsie, wat eerste die rowers gesien het en vir Piet gewaarsku het.

Boer fnuik gewapende roof

 

News  Date: 31 January 2014

 

Jou eie en jou geliefde se lewe, of dié van ‘n gewapende rower...

Dit was die blitsige besluit wat mnr. Piet Lourens (59) moes maak toe sy eie en sy vrou, Tillie, se lewe in die weegskaal was.

Rowers wat klaarblyklik al vir maande ‘n terreurveldtog in die Levubu-omgewing voer, het Sondag (26ste) op die Lourens-egpaar toegeslaan, maar is deur Piet se koelkop optrede gestuit in hulle spore.

Die moontlikheid van ‘n aanval het nie dadelik by Piet opgekom nie. Hy en Tillie, wat piesangs verkoop vanaf hulle hoewe buite Levubu, het ongeveer 10:00 van die stoor na die huis geloop, nadat hulle klaar was met die dag se verkope. Tillie, wat ‘n bietjie olik gevoel het, het besluit om te gaan bad, terwyl Piet vir homself kos opgeskep het en op die stoep gaan sit het.

Die honde het skielik erg begin tekere gaan, en Piet het eers gedink dit was rietrotte wat in die bosse, ‘n klipgooi van waar hy op die stoep sit, bly.

Dit was toe sy hondjie, Worsie, by die stoephekkie kom staan en histeries begin blaf dat hy besef het daar is fout. “Ek moet ‘n vuurwapen kry,” het Piet gedink, en hy het die huis ingestorm en sy rewolwer gaan kry.

Met die omdraaislag, vuurwapen gereed, was daar klaar ‘n gewapende rower in die huis. Daar is twee badkamers, langs mekaar in die gang. Die rower het vermoedelik deur die een se venster geklim, terwyl Tillie besig was in die tweede badkamer.

“Al wat ek gesien het, was die man se arm wat om die gangmuur kom, met ‘n vuurwapen wat hy op my gerig het,” het Piet vertel van wat hy gesien het toe hy teruggestorm het vanaf die sitkamer. Die rower het in sy spore omgedraai, in die badkamer ingegaan en die deur toegedruk.

In daardie stadium het Piet nie geweet in watter badkamer Tillie was nie, maar hy kon die rower dofweg sien deur die glasventers van die toe badkamerdeur. Bekommerd dat die man Tillie gaan leed aandoen, het Piet deur die venster op die rower geskiet. 

Steeds was die egpaar se nagmerrie ondervinding nie oor nie.

Daar was ‘n tweede rower in die huis. Dié rower het vermoedelik by die agterdeur ingeglip terwyl die drama tussen Piet en die eerste rower in die gang afgespeel het.

Piet het gesê dat die eerste rower dadelik inmekaar gesak het, waarna hy die badkamerdeur oopgeruk het om te kyk waar Tillie is. Dit was toe dat die tweede rower, met ‘n lang mes in sy hande, verbystorm en by die tweede badkamer ingaan – waar Tillie eintlik was.

“Ek het net vir Tillie geskreeu om te pasop, toe skiet ek hom ook voordat hy vir Tillie kon seermaak,” vertel Piet. “Tillie wou nog weet wat aangaan, maar ek het net vir haar gesê sy moet kom dat ons net gaan.”

Die egpaar het na buite gehardloop, waarna hulle hulp ontbied het.  Dit sou later aan die lig kom dat die eerste rower se 9mm pistool nie kon afvuur nie want dit het gestoor. Die polisie het glo twee lewendige rondtes in die loop ontdek, en nog een wat uitgeval het op die badkamer vloer.

Terwyl daar gewag is vir die polisie, het die tweede rower, wat in die skouer gewond is, op die vlug geslaan. “Nugter weet hoe hy deur daai klein badkamervenster gekom het,” het Piet gesê, terwyl hy beduie na die piepklein venstertjie wat nog diefwering ook het.

Met die polisie se aankoms is daar eers agtergekom dat daar nóg twee ander rowers was wat buite die huis waggestaan het. Die rower wat Piet eerste geskiet het, het kort voordat hy aan sy wond beswyk het, sy eie en die voortvlugtende rower se name aan die polisie gegee.

Die gewonde rower het nie ver gekom voordat hy ook gearresteer is nie. Die gemeenskap van Tshakhuma het die bloeiende man opgemerk en aan die polisie oorgegee. Hy was teen druktyd steeds onder streng polisiebewaking in die Polokwane Provinsiale Hospitaal.

Die ander twee rowers, wat buite die huis gewag het, is laat Dinsdagmiddag in hegtenis geneem en moet nog aangekla word.

Levubu polisiewoordvoerder A/O Solly Mukhola het bevestig dat daar ‘n saak van poging tot huisbraak teen die oorlewende rowers ondersoek word. Daar word ook ‘n saak van moord en poging tot moord teen Piet ondersoek, en die Direkteur van Openbare Vervolging sal moet besluit of daar klagte teen hom gelê sal word of nie.

Intussen verneem die koerant dat die gemeenskap van Tshakhuma verheug is na afloop van die gefnuikte roof. Die rowers het glo ‘n skrikbewind in die omgewing gevoer en was betrokke by meer as een messteek-voorval.

“Ek voel nie sleg vir hulle nie; dit was hulle of ek en my vrou,” het Piet gesê.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines