

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 December 2004
ALLDAYS – ‘n Oplossing vir die dorp se bykans rampspoedige waterkrisis is nog steeds nie in sig nie, nadat vroeër amptelik aangekondig is dat die dorp voor November voldoende water sou hê.
Die situasie, wat deur politieke waarnemers as skokkend onverskillige wanbeplanning en wanbestuur beskryf is, duur steeds voort – meer as twee jaar nadat ‘n kontrak vir die bou van ‘n pypleiding reeds amptelik toegeken is.
Dringende samesprekings is vir vandeesweek belê in ‘n poging om die lank vertraagde Alldays-waterskema weer op dreef te kry. Die voorgestelde skema maak voorsiening vir die konstruksie van ‘n waterpypleiding vanaf sterk boorgate wat die dorp se voortslepende waterkrisis uiteindelik sou verlig. Die projek, wat glo drie maande sou duur om te voltooi, is nou reeds meer as 24 maande laat.
‘n Kontrak vir die konstruksie van die pypleiding is reeds in 2002 deur die Capricorn Streeksmunisipaliteit toegeken. By navraag het ‘n woordvoerder van Capricorn Munisipaliteit, mnr. Ndavhi Ramakuela, vroeër vanjaar erken dat tegniese probleme die aanvang van die projek vertraag het.
Te midde van hierdie ernstige tekort aan ‘n standhoudende waterbron, is intussen 500 nuwe HOP huise op Alldays opgerig in die nuwe sogenaamde Spykerpark. Al die woonhuise is toegerus met krane en spoeltoilette, maar daar is geen wateraansluitings nie. Bewoners van al 500 woonhuise is aangewese op die naasliggende bosse vir toiletdoeleindes. Dit skep spanning met aanliggende grondeienaars. Vrouens en kinders bekom water by die taxistaanplek, meer as ‘n kilometer ver. Hulle stoot kruiwaens vol waterkanne en rol waterdromme oor die besige nasionale pad na hul tuistes in Spykerpark. Spanning het opgelaai weens toenemende waterdiefstal vanaf persele met private boorgate en ook vanaf die nood watertenk by die kliniek op die dorp.
Voortdurende private noodplanne word deur inwoners ingestel om nooddienste op die dorp te laat voortsukkel. Een verbruiker, wat maandeliks getrou ‘n rekening van R43 vir basiese watervoorsiening ontvang, het die munisipale watermeter amptelik laat verwyder, omdat hy in jare nog geen water deur die munisipale stelsel ontvang het nie. Op plekke is water uit die munisipale opgaartenk glo tot sowat 10:00 die oggend beskikbaar. Daarna is alle krane droog. ‘n Nood watertenk is privaat deur die gemeenskap by die kliniek opgerig om vir noodsaaklike dienste voorsiening te maak. By ‘n prominente vulstasie op die dorp is die openbare toilette permanent gesluit weens ‘n gebrek aan water.
Na ernstige klagtes oor die krisisomvang van die watertekort op die dorp, is in Augustus vanjaar, twee jaar later, aangekondig dat die konstruksie van die pypleiding onmiddellik gaan begin en binne drie maande voltooi sou wees.
“Alldays sal voor November water hê,” het wyksraadslid Serite Sekgoloane toe vol vertroue gesê.
Vandeesweek het raadslid Sekgoloane by navraag bevestig dat intussen weer heeltemal niks gebeur het nie.
Hy blameer die raadgewende ingenieur van die projek vir probleme wat die begin van die bouwerk steeds vertraag.
“Daar was nog geen onderhandelings met die eienaars van plase oor wie se eiendom die pypleiding sou loop nie. Die kontrakteur kon gevolglik nog nie begin werk nie. Ons hou vandeesweek dringende samesprekings tussen die raadplegende ingenieur en die grondeienaars oor die noodsaaklike servitute wat geregistreer moet word voordat daar met die bouwerk begin kan word. Die projek was ook vertraag omdat daar nog geen omgewingsimpakstudie gedoen is nie. Dié is intussen toe gedoen, maar klaring word nog vanaf die Departement van Omgewingsake ingewag.”
Raadslid Sekgoloane wou vandeesweek nie ‘n voorspelling waag oor ‘n nuwe verwagte voltooiingsdatum nie. Hy sê Capricorn Munisipaliteit mag dalk daaroor ‘n mening hê.
Capricorn se kommunikasiebeampte was vandeesweek nie beskikbaar vir kommentaar nie. Sy selfoon neem boodskappe. ‘n Boodskap is ook gelaat by die skakelbordoperateur van Capricorn Munisipaliteit, wat sê mnr. Ramakuela is in ‘n vergadering. Navraag by die kantoor van die raadplegende ingenieur het ook geen resultate opgelewer nie. ‘n Skakelbordoperateur het ‘n boodskap geneem vir die bestuurder van die onderneming, wat volgens haar nie beskikbaar was nie.
Onder die vrae wat te midde van die krisis onbeantwoord bly, is watter uitbetalings daar al sedert die toekenning van die tender, meer as twee jaar gelede, aan die betrokke ondernemings gemaak is en watter strafmaatreëls in plek is vir wanprestasie. Wat is die algemene finansiële implikasies van die fiasko vir die belastingbetalers? Daar is ook vrae oor die Capricorn Munisipaliteit se erns en bevoegdheid om die krisis te hanteer, aangesien daar na twee jaar oënskynlik nog niks gedoen is om die onaanvaarbare agterstand te remedieer nie.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
