ADVERTISEMENT:

 

Ds. Dawid Serfontein.

Dominee geskors oor siening van kinderdoop

 

News  Date: 17 December 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Die gemeenskap het verneem dat die predikant van die Gereformeerde Kerk Louis Trichardt geskors is. Die rede vir die skorsing is sy siening van die kinderdoop.

Ds. Dawid Serfontein is in sy amp geskors en kan nie meer amptelike pligte soos prediking of huisbesoek waarneem nie. Die gemeenteblad, gedateer Desember 12, verduidelik aan die gemeente dat ds. Serfontein ‘n leerstuk voorgelê het waarin hy tot sekerheid gekom het dat die leer van die kinderdoop in stryd is met die Woord van God.

Ds. Serfontein (41) is vier en ‘n half jaar gelede op 2 Julie 2000 as predikant van die gemeente bevestig. Hy het die afgelope twee jaar ‘n studie van die Bybel gemaak in verband met die doop. Sy meestersgraad in Sistematiese Teologie aan UNISA handel ook oor hierdie onderwerp en nader voltooiing. Die titel is “Die dogmatiese interpretasie van die Dooptekste in die Nuwe Testament.”

Terwyl ds. Serfontein se tydelike skorsing gehandhaaf word, mag hy nie sy siening rakende die kinderdoop propageer nie. Hy het wel, met toestemming van die kerkraad, sy Skrifstudie van 124 bladsye aan ‘n aantal adviseurs gestuur en later ‘n verkorte opsomming van 32 bladsye aan die kerkraad gegee.

Op Sondag, 24 Oktober, het ds. Serfontein die kerkraad die eerste keer in kennis gestel dat hy leerstellige probleme rondom die kinderdoop het. Die Classis Contracta, bestaande uit die Gereformeerde Kerke Louis Trichardt, Laeveld en Pietersburg-Suid, het op 27 Oktober die kerkraad se besluit om hom tydelik in sy amp te skors, bekragtig. ‘n Besinningstyd is aan ds. Serfontein gegee waarna hy duidelikheid aan die kerkraad moes gee of hy die kinderdoop honderd persent aanvaar en onderskryf.

Op die Classis Contracta vergadering, gehou op Woensdag, 8 Desember, het ds. Serfontein ‘n leerstuk voorgelê waarin hy sê dat hy nou tot sekerheid gekom het dat die leer van die kinderdoop in stryd is met die Woord van God en dat hy daarom hierdie leer verwerp.

Volgens die gemeenteblad lui sy submissie “dat die sentrale pilaar waarop die leer van die kinderdoop rus, naamlik dat die doop die teken van die nuwe verbond is wat in die plek van die besnydenis gekom het, nêrens in die Bybel eksplisiet of implisiet voorkom nie, daarom verwerp hy hierdie leerstuk.”

Die Classis Contracta vergadering het ds. Serfontein se skorsing gehandhaaf en ‘n klag van dwaalleer teen hom gelê by die spesiale vergadering van die klassis met deputate van die Partikuliere Sinode, wat waarskynlik op 18 Januarie 2005 sal sit. Indien hierdie vergadering ds. Serfontein skuldig bevind, kan hy uit sy amp afgesit word.

Die kerkraad het ook ‘n voorlopige besluit geneem dat ds. Serfontein tot einde Januarie 2005 getrakteer sal word met byvoordele. In leketaal beteken dit dat hy nog tot einde Januarie salaris sal ontvang en in die pastorie mag woon.

Baie mense vra aan ds. Serfontein waarom hy so ‘n leerstuk voorgelê het, terwyl hy weet watter drastiese gevolge dit waarskynlik vir hom en sy gesin gaan inhou. Hy antwoord op sy kenmerkende manier, altyd uit die Bybel.

“Volgens Lukas 14:26-27 en 33, moet ek as Christen bereid wees om alles op te offer, my besittings, my werk en selfs my lewe, ter wille van Woordgehoorsaamheid aan Christus. ‘n Christen mag nooit sê ‘dit is nie vir my gerieflik nie.’ Christus is my Koning en daarom wil ek myself honderd persent aan Sy Woord onderwerp.”

Dawid sê dat, aangesien hy nie sy standpunt oor die doop mag propageer nie, hy nog nie probeer het om sy vrou, Retha, na sy siening oor te haal nie. Sy het dus nog nie ‘n besluit oor die doop geneem nie. Retha sê nogtans dat sy rustig voel en haar man sal bystaan, want: “Ek het gesien hoe ernstig Dawid die Bybel bestudeer het.”

Verlede jaar het die gemeenskap saam met die Serfonteins gerou by die graf van hulle 12-jarige seun, Johan, wat op 2 November aan klierkanker oorlede is.

“Die Here het ons gedra deur Johan se dood,” sê Retha. “Dit was erger as hierdie situasie. Die Here sal ons hierdeur ook dra.”

Dawid sê dat hy ‘n jaar voor Johan se dood oor die onderwerp van die doop begin studeer het.

“Sy dood het my laat besef dat tyd kosbaar is: Miljoene mense sterf jaarliks, anders as Johan, sonder Christus en gaan vir ewig na die vuur van die hel. Die kerk van die Here is egter nie besig om effektief en in eenheid die evangelie aan hierdie verlore mensdom te verkondig nie, want ons is te besig om teen mekaar te baklei oor hoe die evangelie regtig werk, hoe die doop bedien moet word ens. Ek het besef ons mag nie nog 20 jaar mors voor ons hierdie probleme opgelos kry nie! Johan se dood het dus gemaak dat ek harder begin werk het en vinniger tot ‘n besluit oor die doop gekom het.”

Voordat hy in die bediening gekom het, was Dawid ‘n mediese fisikus by die Universiteit van die Oranje Vrystaat en by die Universitas Hospitaal. Hy het klas gegee in mediese fisika en elektronika. Retha is tans maatskaplike werker by die SAVF. Hulle dogter, Marié (11) gaan volgende jaar na Graad 6 en hul pleegkind, die 13-jarige Rigardo, gaan hoërskool toe.

Altyd bereid tot gesprek, sê Dawid, “Ek dink dit is nodig dat ons in Louis Trichardt ‘n oop dinkskrum hou oor die betekenis van die Doop.”

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines