

ADVERTISEMENT:

News Date: 23 May 2003
LOUIS TRICHARDT – 'n Boervrou van die omgewing, mev. Bettie Malan van die plaas Beja, kan haarself gelukkig ag om nog te leef, nadat twee gewapende mans Maandagoggend probeer het om haar voertuig te kaap.
Die voorval het omstreeks 10:00 plaasgevind. Bettie was op pad na Louis Trichardt om haar weeklikse aflewering te doen.
By die plaashek aangekom, het Bettie vir 'n oomblik gestop, voordat sy in die Beja-pad sou indraai. Skielik het twee mans, wat agter 'n muurtjie by die hek geskuil het op haar afgestorm. Die een man het 'n .38-rewolwer tevoorskyn gebring en dit teen Bettie se kop vasgedruk. Sy is beveel om kalm te bly, waarna een van die mans by die passasierskant ingeklim het. Die gewapende man het die rewolwer vir sy makker in die voertuig aangegee, waarna hy ook by die passasierskant ingeklim het. Bettie is daarna opdrag gegee om te ry.
Sowat 'n 100 meter verdere het een van die kapers egter daarop aangedring dat hy wil bestuur. Hulle het gestop, waarna Bettie tussen die twee mans moes inskuif. Die man, wat duidelik nie goed kon bestuur nie, het daarna aangesukkel tot by die nou bruggie op die Beja-pad.
"Jy kan nie glo hoeveel dinge deur jou kop gaan terwyl jy daar sit nie. 'n Mens hoor altyd van mense wat sê jy moet bid. Dit was toe ons oor daardie nou bruggie ry, wat ek besef het dat ek moet bid," vertel Bettie.
Net anderkant die bruggie het die kapers die bakkie tot stilstand gebring. Beide het uitgeklim en met 'n toe hek begin vroetel.
"Op daardie stadium het ek besef dat die twee mans van plan was om my in die digte bosse in te sleep om te verkrag, dood te maak of beide. Ek het vir die Here gevra dat indien dit sou gebeur, dit net vinnig moet wees - ek wou nie ly nie." Die kapers kon egter nie die hek oop kry nie. Hulle het toe vir Bettie beveel om uit te klim. In daardie spesifieke stadium het Jaco Basson, 'n boer van Levubu, in die pad aangery gekom. Hy was juis onderweg na Bettie en haar man, Willie. Jaco vertel dat hy onmiddellik die Malans se bakkie herken het. Hy het die twee mans opgemerk, maar dit was eers toe hy vir Bettie sien, wat hy geweet het daar is moeilikheid.
Intussen het die twee kapers vir Bettie beveel om terug te klim in die bakkie. Weer moes sy tussen hulle inskuif. Die kapers het probeer om weg te ry, maar die bakkie wou nie beweeg nie. Dit was te danke aan Bettie wat, terwyl die twee mans besig was om met die hek te worstel, die bakkie se handrem vasgetrek het. "Glo my, as dié bakkie se handrem vasgetrek is, gaan hy nêrens heen nie," vertel Bettie met 'n glimlag.
Jaco het intussen nader beweeg aan Bettie se bakkie. Die kapers het begin paniekerig raak en het Jaco se voertuig fyn dopgehou. "Terwyl die twee mans Jaco se bakkie dop gehou het, het die een met die rewolwer vir 'n breukdeel van 'n sekonde die wapen van my weggedraai. Dit was toe dat ek die wapen gegryp het."
Die kapers het uit die bakkie gespring. Bettie het besef dat sy met die rewolwer in haar hande sit en het 'n skoot op die man by wie sy die wapen afgeneem het gevuur. Die koeël het hom rakelings gemis en een van die bakkie se kantvensters stukkend geskiet. Jaco het intussen gepoog om die man wat by die bestuurder se kant uitgespring het, met sy bakkie teen Bettie se bakkie vas te pen. Hy het egter te min momentum gehad, en die kaper kon daarin slaag om tussen die twee voertuie uit te skuif.
Jaco het uit sy bakkie gespring, die rewolwer by Bettie gegryp en op een van die kapers losgebrand. Beide kon egter daarin slaag om te ontsnap. Minute later is 'n intensiewe soektog na die mans geloods deur boere, die SAPD en 'n privaat polisiëringsdiens. Alhoewel die verdagtes teen druktyd nog nie aangekeer is nie, is beide positief geïdentifiseer as inwoners van Elim.
"Dit was 'n rowwe storie, maar ek was heel kalm. Eers nadat die hele storie verby was, het die skok ingetree. Ek is dankbaar dat Jaco op daardie spesifieke stadium daar aangekom het," vertel Bettie. Dat Jaco op daardie stadium daar opgedaag het, is inderdaad 'n besturing. Hy sou heelwat vroeër die Malans besoek het, maar is op Levubu vertraag.
Die Malans en Jaco het hul dank uitgespreek teenoor almal wat so vinnig gereageer het, insluitend die SAPD, Danie Haasbroek en Fritz Ahrens.

ADVERTISEMENT:
