

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 February 2014
Die Albasinidam is vol … en dit is beslis nie ‘n alledaagse verskynsel nie!
“Vir die vierde keer in die 44 jaar wat ons hier woon, is al 13 sluise van die Albasinidam oopgetrek,” sê ‘n bekende inwoner van die omgewing, mnr. Charles Leach. Hy sê dat die dam beslis meer as 100% vol is, te oordeel aan die vlak van die opdrifsels.
“Wat vir ons verblydend is, is dat dit nie gepaardgegaan het met ‘n sikloon of ‘n ding wat al die brûe en paaie weggespoel het nie. Dit is die eerste keer na 2000 se vloed, waarvan ek weet, dat die sluise oopgemaak is as gevolg van die baie water en nie om toetse te doen nie,” het Leach gesê.
Die Departement van Waterwese gee ook die persentasie vir die Albasinidam as 100.7% soos op 3 Februarie. Die Albasinidam se kapasiteit is 28 miljoen kubieke meter. Die Middel-Letabadam staan op 54.8%, wat ook ‘n groot klomp water is, as gevolg van sy reusekapasiteit van 172 miljoen kubieke meter. Die groot Nandonidam (166 miljoen kubieke meter) is 104.3% vol, terwyl die Nzheleledam van 51 miljoen kubieke meter en die Vondodam van 30.5 miljoen kubieke meter beide oorloop.
Vanuit die Musina-omgewing het mnr. Johan Taute Dinsdag berig dat hulle ongeveer 170mm reën vir die week gehad het en meer as 250mm vir die seisoen. “Ons het ‘n verskriklike goeie jaar en die diere is vet. Ons temperature in Desember was laer as gewoonlik en Januarie was baie bedompig, met kort-kort ‘n buitjie reën wat uitsak. Alles met die weer is so perfek,” sê Taute.
Tshipise skyn minder gelukkig te wees. “Ons het 34mm reën aan die begin van Januarie gehad en 40mm oor die laaste vier dae. In Desember het ons 37mm gehad,” het mnr. Peter Nicholson van Tshipise gesê.
Vanuit Alldays berig mnr. Robert Gallon dat hulle vir Januarie tussen 100mm en 120mm reën gekry het en vir die hele seisoen sowat 280mm. “Die laaste klompie dae het ons net sowat 4mm gemeet, maar Vivo het die laaste week meer reën gehad. Berigte vanuit Vivo van 40mm tot 50mm reën het ons bereik,” het Gallon gesê.
In Makhado (Louis Trichardt) vertel mnr. Willie Agenbacht dat hy in Malvastraat 379mm vir die hele Januarie gemeet het, met 138mm verlede Vrydag. In Februarie het daar tot dusver 80mm geval. “Die aanduidings is daar dat ons in ‘n beter fase inbeweeg,” het Agenbacht gesê.
Mnr. Fritz Ahrens, voorsitter van die Levubu Boerevereniging, berig ‘n ongelooflike 466mm vanaf 27 Januarie tot 4 Februarie. Die totale vir Desember, Januarie en Februarie tot dusver is 85mm, 396mm en 188mm onderskeidelik, soos gemeet op die plaas Sterkstroom by die Piesanghoekpad. “Ons is verheug en vol dankbaarheid, veral oor die Albasini wat vol is. Ons sou op 27 Januarie begin het met besproeiing,” sê Ahrens.
Mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie (SDLU), het verduidelik dat die goeie reën te danke was aan ‘n tropiese laagdrukstelsel wat met ‘n sikloon naby Madagaskar begin het. Die laagdruk het wes beweeg en oor Mosambiek ingekom. “Die stelsel het in die noordelike deel van ons land ingekom. Soos wat hy inbeweeg het, het die windspoed afgeneem. Dis ‘n vreeslike klomp gekonsentreerde vog wat so inkom, en soos wat die windspoed afneem en die stelsel verswak, brei die stelsel uit en hy raak wyer en wyer. Dis hoekom reën letterlik oor die hele land val,” sê Hoffman.
Hoffman sê dat die stelsel wel nog reën kan uitgooi, maar dat die intensiteit daarvan sal afneem. “Daar is nie, sover ek weet, ‘n nuwe stelsel of addisionele vog wat inbeweeg nie. Dit gaan nou maar net oor die vog wat reeds in die stelsel is, wat nog kan neerlsaan. Ek dink ons sal ‘n bietjie afgebroke bewolkte sonskynweer hê, en dalk van die naweek af weer ‘n bietjie reën,” het Hoffman Dinsdag gesê.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
