ADVERTISEMENT:

 

Kobus Lubbe, voor sy huis in Andersonstraat verlede Vrydag. "Kom kyk, my tuin lyk soos 'n swembad," het hy gesê. Hy het Vrydagoggend sy reënmeter, wat oorgeloop het, uitgegooi. Die meter kon net meet tot by 100mm reën.

Streek se paaie word riviere ná hemel se sluise oopmaak

 

News  Date: 07 February 2014

 

Paaie het soos riviere gelyk, en in party van hierdie “riviere” is daar selfs visgevang .

‘n Hewige reënbui wat verlede Vrydagoggend omstreeks 02:00 uitgesak het oor Makhado (Louis Trichardt) het nie net reënmeters laat oorloop nie, maar ook sportvelde, klaskamers en party huise enkeldiep onder die water gelaat.

Net soos wat die reënwater deur die dorp gestroom het, so het lesers se fotobydraes ook Vrydag begin instroom op die Zoutpansberger se Facebook-blad.

Die aanhoudende reënbui het veroorsaak dat skoolaktiwiteite Vrydag by die CVO Skool Zoutpansberg buite die dorp gestaak moes word. Die skool sou Vrydag hul atletiekbyeenkoms aangebied het, maar kon nie daarmee voortgaan nie omdat hulle rugbyvelde soos ‘n dam gelyk het. Van die skool se klaskamers is ook oorstroom.

Ondernemings soos die Hennetjie Nes in Erasmusstraat, asook Flamingo Panel Beaters in Malherbestraat, het ook oorstroom en daar moes inderhaas sandsakke gepak word om die water te stuit. Jaco en Tinkie van Zyl, wat op die hoek van Douthwait- en Erasmusstraat bly, se erf was ook erg oorstroom. Jaco en sy werkers het nog tot laat Vrydagmiddag gespartel om verstopte munisipale stormwaterpype wat nie die stormwater kon wegvoer nie, te probeer oopmaak. Die verstopte stormwaterstelsel het veroorsaak dat water wat vanaf Cellierstraat se rigting afgekom het, opgedam het in die Van Zyls en Hennetjie Nes se omgewing.

“Dit lyk soos die Vaalrivier hier in ons erf. As ek buite loop, is die water oor my enkels, maar dis die liefde van Jesus wat op ons afstroom,” het een leser, me. Liza du Preez, die koerant laat weet.

Die brug by die FireFly Kafee in Industriastraat het ook oorstroom en die pad moes Vrydagoggend vir ‘n wyle gesluit word vir verkeer.

Vrydag se reënbui het darem nie net konsternasie veroorsaak nie, maar ook welkome verligting gebring vir waterbehoeftige inwoners van die dorp. Mev. Hannelie van Breda van Foto First het dadelik emmers gegryp en reënwater daarin opgevang. “’n Boer maak ‘n plan! Na amper drie weke sonder water bring die reën vir ons water,” het sy Vrydag gesê.

Die reën het glo ook krokodille na die dorp gelok. Lesers het gebel om te vertel van die meterlange krokodil wat klaarblyklik sy intrek geneem het in die dam by die Bergwater Hotel. Met die koerant se aankoms by die dam was krokkie, wat glo op ‘n stomp in die dam uitgeklim het, nêrens te siene nie. Niemand het nog weer die krokodil opgemerk nie. Lesers wat wel weer die krokodil sien, is welkom om foto’s aan die Zoutpansberger te stuur.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines