

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 February 2014
Alle klasse by Masedi Combined School in Tshikota is Vrydag onderbreek ná die ontsnapping van vier gevaarlike aangehoudenes uit polisiebewaking in Makhado (Louis Trichardt).
Algemene ontevredenheid met die polisie se optrede en owerheidsdienste het ná die ontsnapping oorgegaan tot brandende versperrings in hierdie woongebied se strate. Die vier mans wat ontsnap het, was Given Mphofu (24), Dzulani Nemukula (23), Evans Chipara en Trust Chikwadzi.
Besorgde ouers het Vrydag gehaas om hul kinders uit die skool na veiligheid te neem, nadat 'n gerug die rondte gedoen het dat een van die gewapende ontsnaptes in die omgewing van die skool opgemerk is. Die ouers wou tydens 'n noodvergadering in die gemeenskapsaal in Tshikota van die polisie weet hoe die misdadigers kon ontsnap het. Die ontsteltenis het oorgegaan tot verontwaardiging toe die plaaslike polisiehoof, kol. Francois Ramovha, hulle ingelig het dat die vier mans deur net een polisieman geleide gedoen is na die hofsaal, waar hulle vir die soveelste keer op klagte van beweerde oortredings moes verskyn. Die vier, wat deur die polisie as gevaarlik beskou word, het glo die polisieman oorrompel en ook sy 9mm-dienspistool met ‘n vol magasyn afgeneem.
By navraag het provinsiale polisiewoordvoerder in Polokwane lt.kol. Ronel Otto gesê die verdagtes het Vrydagoggend net na 08:00 by die hof ontsnap toe hulle vervoer is van korrektiewe dienste na die hof. “Toe hulle uit die voertuig gelaai is, is die polisielid oorrompel en van sy pistool beroof. Die verdagtes het daarna te voet op die vlug geslaan en is nog nie weer gearresteer nie. Hulle word as gevaarlik bestempel en mense word aangeraai om hulle nie te konfronteer nie, maar eerder die polisie te skakel indien hulle weet waar die verdagtes hulle bevind. "Die omstandighede rondom die ontsnapping word ook intern ondersoek," het Otto gesê.
Die een ontsnapte, Mphofu, het in November verlede jaar ook vir onrus in Tshikota gesorg, toe verwoede inwoners die ou Tshikota Lodge afgebrand het waar hy sou geskuil het. Mphofu en sy makkers het klaarblyklik ‘n skrikbewind in Tshikota gevoer. Inwoners het ook die HOP-huis van Mphofu se vriendin aan die brand gesteek. Kort ná die onrus, op 27 November, is Mphofu en Nemukula, asook die 23-jarige Courage Shoko, gearresteer.
Die huidige murasie van die afgebrande Tshikota Lodge se hoofingang is net ‘n klipgooi weg van die gemeenskapsaal waar die gemeenskap vir kol. Ramovha gekonfronteer het oor die ontsnappings. Die gemeenskap se ontsteltenis met die optrede van die polisie het die afgelope naweek oorgekook in algemene ontevredenheid. Strate is versper met boomstompe, klippe en brandende buitebande en volgens berigte moes die polisie rubberkoeëls gebruik om oproeriges te probeer beheer. Laat Dinsdagmiddag het die uitgebrande vullis en die oorblyfsels van beskadigde verkeerstekens saam met die rommel nog steeds in die strate gelê.
Teen druktyd was daar nog geen aanduiding of enige van die vier ontsnaptes al deur die polisie aangekeer is nie.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
