ADVERTISEMENT:

 

Bekende in sekuriteitskringe ernstig gewond

 

News  Date: 23 May 2003

 

LOUIS TRICHARDT – Die afgelope vier weke was nie 'n maklike tydperk in die Geyer-familie nie, veral nie vir Fanie Geyer, 'n bekende privaat polisiëerder, nie. Hy staan een broer aan die dood af, terwyl sy ander broer ernstig gewond word in 'n gewapende roof. Te midde van alles ontvang Fanie nou ook doodsdreigemente.

Op Dinsdag, 29 April word Riaan Geyer (36), die middelste van die drie Geyer-broers, op sy fiets raakgery deur 'n voertuig in Polokwane.

Hy het ernstige breinbeserings opgedoen en beswyk 'n paar dae later op Saterdag, 3 Mei.

Agt dae na die begrafnis van Riaan, word broer Deon (38) ernstig gewond in 'n gewapende rooftog by die Phadziri-busstasie op Louis Trichardt. Deon is betrokke by gewapende reaksiedienste, asook gewapende bankdienste. Die voorval het Vrydag (16de) om 10:15 plaasgevind. Drie gewapende mans, vermom met balaklawas, het op Deon afgepeil en hom ontneem van sy vuurwapen. Hulle het hom vermoedelik met sy eie vuurwapen geskiet.

Die koeël het by sy wangbeen ingegaan, beide kakebene uitmekaar geruk en verskeie are en die hoofslagaar in die nek, asook die boonste nekwerwel getref. Die koeël is by sy agterkop uit, waarna dit die drywer, Sam Murwanthi, getref het. Hy is gelukkig alreeds uit die hospitaal ontslaan en terug op diens.

Deon is na behandeling by die Louis Trichardt Gedenkhospitaal met 'n nooddienste helikopter afgevoer na Polokwane en daarna na die Unitas Hospitaal in Pretoria. Hy het reeds twee vaskulêre operasies ondergaan waarin daar gepoog is om die slagaar te heg. Hy moet nog verskeie delikate operasies ondergaan, onder andere tand en kaakoperasies.

Deon beskik oor geen mediese fonds of ongeskiktheidspolisse vir sy toekomstige operasies en herstel nie. Die mediese kostes beloop reeds etlike honderde duisende rande. Deon het elke dag sy lewe gewaag om die take vir ander ligter te maak.

"Wanneer Deon terugkom en versorg moet word, totdat hy weer na sy werk kan terugkeer, het Deon en sy gesinnetjie regtig ons almal se hulp nodig. Ons wil graag probeer om 'n klein verskil in Deon se lewe te maak vir die groot verkil wat hy al in ons gemeenskap se lewens gemaak het. In ons tyd van nood het Louis Trichardt se gemeenskap alreeds gewys dat hulle kan saamstaan," sê Fanie en Rentia Geyer. Deon se hulpfonds is by Absabank onder die naam D. Geyer rekeningnommer 9094669235.

Na die aanval op Deon, ontvang Fanie doodsdreigemente. Fanie voel bitter oor wat die misdadigers aan sy broer gedoen het en hy is direk gemoeid met die betrokke ondersoek. Dit kan wees dat Fanie die teiken van die booswigte is, omdat hy dikwels sukses het met die vastrek van misdadigers.

Broer Riaan was al die jare sekuriteitsbeampte by Shoprite op Louis Trichardt. Hy het 'n paar maande gaan uithelp in Polokwane en sou aan die begin van Mei weer na Louis Trichardt teruggekeer het. Riaan is op 8 Mei vanuit die AGS Kerk op Louis Trichardt begrawe. Hy word oorleef deur sy vader Ampie, moeder Magda, sy suster Stephné en sy twee broers, Fanie en Deon.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines