

ADVERTISEMENT:

News Date: 14 February 2014
Die grawe van grafte in die munisipale begraafplaas van Makhado (Louis Trichardt) is die verantwoordelikheid van die plaaslike munisipaliteit, soos ook uitgespel in ‘n onlangse mediaverklaring deur die Makhado Munisipaliteit.
Die rou werklikheid is dat by ‘n begrafnis in Januarie vanjaar die graf glad nie gegrawe was nie. Die familie is hartseer op hartseer gespaar deurdat die begrafnisondernemer maar self die graf gegrawe het. Dit was ook nie die enigste taak wat Martin’s Begrafnisondernemers namens die munisipaliteit verrig het nie. Mnr. Dries Nel van Martin’s moes self die pad na die graf skoonsny, sodat die begrafnisgangers en die predikant net by die graf kon uitkom. “Die grassnyery het ‘n hele twee dae geneem. Jy moet met weedeaters werk. Ek wil nie hê die bedroefde mense moet daar diep in die gras staan nie,” het Nel gesê.
“Die munisipaliteit het geen respek vir ons afgestorwenes en naasbestaandes nie. Ek sê dit na aanleiding van die toestand by die begraafplaas en die gebrek aan instandhouding daar,” het ds. Jan Pretorius hierdie week gesê. Die probleme wat hy geopper het, is die munisipaliteit se afwesigheid toe die graf gegrawe moes word, die grafte wat te groot of te skeef gegrawe word met ‘n munisipale tru-grawer, die beskadiging van grafstene deur die tru-grawer en die grafnommers en rye se nommers wat weg is. “Die gras was omtrent so hoog soos ek,” het Pretorius gesê.
In Desember laasjaar was die probleem by ‘n begrafnis dat die graf verkeerd gegrawe was. “Hulle het die gat al hoe wyer gemaak en nie dieper nie. Dit is dan te wyd vir my masjiene en nie diep genoeg nie,” het Nel gesê.
‘n Begrafnisondernemer betaal die munisipaliteit meer as R800 vir ‘n graf. Ekstra onkostes moet aangegaan word om self ‘n graf te laat grawe en om die gras gesny te kry. “Dit is die swakste diens van die munisipaliteit af. Dit kan nou nie erger nie,” het Nel gesê. Hy het beklemtoon dat sy begrafnisonderneming op hulle beurt die beste diens gee wat hulle kan, al sou dit dan beteken dat hulle alles self moet doen.
Die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, het by navraag gesê dat grafte gegrawe word nadat alle prosedures afgehandel is. Nel het gesê dat hulle elke keer die doodsertifikaat en nog twee dokumente ingedien en betaal het en ‘n grafnommer gekry het, waarna die munisipaliteit die graf moes gaan grawe voordat die begrafnis plaasvind. Daar kan tereg gevra word hoe die posisie van ‘n graf gevind word in die hoë gras en in die afwesigheid van sigbare grafnommers. Nog ‘n vraag sou wees waarom niemand van munisipale kant agtergekom het dat die gras amper bo die grafstene staan nie. Bobodi het gesê dat hulle verskillende tipes toerusting het om die begraafplaas te onderhou en dat dit onder die toesig van die munisipaliteit se direkteur vir gemeenskapsdienste val. “Daar was voorheen twee bejaarde mans wat dit op ‘n manier skoongehou het, maar ek sien hulle nie meer daar nie,” het Nel gesê.
Vir heelwat meer as ‘n dekade is die oorgroeide begraafplaas ‘n saak wat inwoners hewig ontstel en wat in die media aandag geniet. In Februarie 2007 is daar twee kantsnyers (weedeaters) aan die munisipaliteit geskenk vir spesifieke gebruik in die begraafplaas. By navraag oor wat van die toerusting wat geskenk is, geword het, het Bobodi geantwoord: “Their lifespan has already expired.” Hy het ook gesê dat die munisipaliteit nie die diens om die begraafplaas skoon en netjies te hou, uitkontrakteer nie, maar dat munisipale werkers dit self onderneem.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
