ADVERTISEMENT:

 

Motors loop deur by Matoks

 

News  Date: 16 May 2003

 

LOUIS TRICHARDT – "Wil 'n mens hoegenaamd nog kinders na skoolaktiwiteite in Polokwane aanry?" Dit is die vraag van die gesin wat 'n aanval op hul motor op die N1 by Matoks op Vrydagaand (9de) beleef het.

Gerhard en Driekie Vorster en hul twee kinders het Vrydag omstreeks 21:30 op die N1 na Louis Trichardt gery nadat hulle by 'n gimnastiekbyeenkoms in Polokwane was. 'n Harde knal teen die linkerkant van hul luukse motor het hul eers laat dink dat hulle geskiet is of dat 'n band gebars het. Hulle het by die Capricorn tolhek gestop om ondersoek in te stel. Die merke teen die motordeur en venster het hulle tot die gevolgtrekking laat kom dat hulle motor met 'n ysterpaal of -voorwerp gegooi is. Op daardie tydstip het 'n 911-motor verbygekom wat omgedraai het om na hulle skade te kyk. Dié motor het in radioverbinding met die SAPD op Louis Trichardt getree. Daar is aan hulle gesê dat die polisie reeds voertuie uitgestuur het en dat hulle klagte nie die enigste klagte was nie.

"Hoe moet skoolkinders heen en weer vervoer word as die pad nie beveilig word nie? Watter toeris sal op hierdie pad wil ry as dit is wat gebeur? Hierdie saak sal definitief verder gevat word," sê mev. Driekie Vorster. Sy maak die voorstel dat daar betonmure opgerig word soos by Hammanskraal.

"Die spoedgrens behoort van 60 km per uur na 80km vermeerder te word, want dit kan lewensgevaarlik wees om by die stadige spoed te hou." Mnr. Johan Calitz van die Hoërskool Louis Trichardt sê dat daar elke week skoolkinders op die N1 verby Matoks vervoer word.

"Ek ry vandag weer met vyf busse en Maandag het ek een uur in die nag daar verbygery. Ouers van Louis Trichardt en Polokwane sal definitief 'n petisie ondersteun dat 'n muur gebou kan word en sekuriteit gehandhaaf kan word," het mnr. Calitz Woensdag (14de) gesê. Hy meen ook dat dit lewensgevaarlik is om stadig in daardie area te ry.

Mnr. Gerhard Vorster sê dat hy gereeld vir sy werk snags op daardie pad moet beweeg en dat hy nou maar skrikkerig voel. Mev. Vorster en die kinders is ook nog getraumatiseerd na die voorval. Buiten die trauma, beloop die skade aan die voertuig duisende rande. Die assessor is ook van mening dat die skade deur 'n ysterpaal aangerig is.

"Ons is gelukkig dat die motor versterkte glas het, want die idee was waarskynlik om die ruit te breek en ons dan te beroof of die motor te kaap," sê die Vorsters.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines