

ADVERTISEMENT:

News Date: 16 May 2003
LOUIS TRICHARDT – Verbruikers geniet nog vir oulaas die uitdeel van gratis plastiek inkopiesakke, hoewel die skrif reeds aan die muur is.
Vandat die nuwe regulasies ten opsigte van plastiek-inkopiesakke op 9 Mei in werking getree het, ondervind verbruikers oor die algemeen nog nie die volle implikasies van die nuwe regulasies nie.
'n Verbruiker, mnr. Steve Kruger, het Dinsdag (13de) gesê dat hy in beginsel saamstem dat plastieksakke ingeperk moet word om rommelstrooiery te verminder. Hy het egter nog nie nodig gehad om sy eie sakke saam te bring nie, want tot dusver het die winkel hom nog kosteloos van sakke voorsien. Nog 'n verbruiker het gesê dat hy al by Checkers van die sterker plastieksakke teen 46c een aangekoop het, terwyl hy by die kafee steeds van die dun sakke gratis ontvang het.
"Ek dink dat die voordele van 'n sterker sak is dat dit langer hou en hopelik nie so rondgegooi sal word nie, omdat daar geldwaarde aan die sak geheg word." Die Spar, Kwikspar en Superspar-groep adverteer dat 'n 8-liter sak 25c, 'n 12-liter sak 31c en 'n 24-liter sak 46c sal kos en langlewe-sakke tussen R2,99 en R7,99 per sak. Die plaaslike Shoprite-winkels gee nog hul ou voorraad van dun plastieksakke verniet weg, maar sal eersdaags sterker sakke teen 46c en 31c begin verkoop.
Apteker, Gerrit du Toit sê dat die wegbeweeg van dun plastieksakke hom glad nie hinder nie. Sy besigheid het reeds meer as 'n jaar gelede omgeskakel na gekleurde papiersakke.
"Ek was moeg daarvoor om saam skuldig te wees aan die besoedeling van die omgewing, want hoe kan ek kla oor die besoedeling en dan deel ek plastieksakke uit?" het mnr. Du Toit gesê. Hy sê dat sy kliënte tevrede is met die reëling. "Inteendeel, hulle bêre die sakkies omdat dit so mooi is."
Mnr. Andrew Erasmus, bestuurder van Fruit en Veg City het Woensdag (14de) gesê dat hulle nog sakke verniet weggee, maar dat hul voorraad binne die volgende dag of twee uitgeput sal wees. Mnr. Erasmus voel persoonlik dat hierdie nie heeltemal 'n werkbare beleid is nie.
"Ek dink aan my minder gegoede kliënte wat byvoorbeeld 'n kool vir R3,99 koop en dan ook nog 31c vir 'n sakkie moet opdok. Hulle voel benadeel. Gelukkig het ons steeds die opsie vir die kliënte om van ons gratis kartondose gebruik te maak," sê Erasmus. Hy sê dat 'n segment van sy kliëntebasis alreeds slaggereed met hul eie sakke by die winkel opdaag.
Die bestuurder van 'n kettingwinkelgroep in die dorp het gesê dat hy glad nie kommentaar wil lewer op die nuwe plastieksak beleid nie. Hy het wel gemeld dat dit nodig was om in die verband 'n nuwe knoppie by elke kasregister te installeer. Vanaf die inwerkingtreding van die nuwe regulasies op 9 Mei het winkeleienaars 45 dae om van al die ou sakke ontslae te raak.
Mev. Chrissie Pohl van Robot Mica het gesê dat sy van plan is om self 'n lapsak te vervaardig. Sy dink ook nie dat 46c vir 'n plastieksakkie te duur is nie. "Mense sal gou gewoond raak aan die nuwe idee. Wat egter wel 'n probleem kan skep, is 'n toename in winkeldiefstal."
Me Mary Metcalf, LUR van omgewingsake en toerisme het Vrydag, 9 Mei, gesê dat Suid-Afrika 7 tot 8 biljoen plastieksakke per jaar vervaardig het, genoeg om vir elke persoon in die wêreld een te gee.
"Geen wonder dat dit die nasionale blom op pale en teen drade geword het nie," het Medcalf gesê. Sy het ook gesê dat die kliënt as 'n verbruiker 'n ingeligte keuse kan maak. Die keuse is om 'n sak te koop of jou eie van die huis af te bring. "Dit sal stadig aan deurskemer dat 'n sak nie iets is om net argeloos weg te gooi nie," sê Metcalf.
Die nuwe beleid sluit in dat die produksie van sakke van minder as 80 mikrometer verbode is. Sakkies sonder drukwerk, soos broodsakkies is daarvan uitgesluit. Oortreders van hierdie regulasies kan 'n boete van tot R100 000 ontvang of 10 jaar tronkstraf opgelê word. Die sterker plastieksak kan herwin word vir hergebruik. Me. Phindile Makwakwa, woordvoerder van die Departement Omgewingsake en Toerisme het gesê dat ingevolge hul ooreenkoms met die plastiekvervaardigers,'n nie-winsgewende maatskappy herwinningspunte oor die land moet oprig.

ADVERTISEMENT:
