

ADVERTISEMENT:

News Date: 21 February 2014
Die bye wat vir Shane Jacobson van Makhado (Louis Trichardt) bygekom het, was toe al die tyd Afrika Heuningbye.
Ná voorverlede week se berig oor Shane Jacobson, wat verwoed deur ‘n swerm bye aangeval is, het die koerant ‘n bietjie kers gaan opsteek by die streek se plaaslike byeboere en uitgevind dat die Afrika Heuningby, ook bekend staan as die moord-by (killer bee), die die aanval verantwoordelik was.
Shane moes vir amper vyf dae lank gehospitaliseer word nadat derduisende bye hom aangeval het en hy 15 meter ver uit ‘n boom geval het. Sy arbeiders en inwoners wat tot sy redding gesnel het, het hom uit die swembad gehaal, waar die bye steeds vir Shane aangeval het.
Mnr. Merwin Wiggil van Makhado (Louis Trichardt), wat al meer as 10 jaar met sy eie bye boer, was een van die mense wat na Shane se aanval gaan kyk het na die byekorf. “Jy weet, ek is darem al aan die verkeerde kant van 50, so ek het nie self in die boom geklim nie, maar ek het gesien dit was die gewone Afrika heuningby,” het Merwin aan die Zoutpansberger gesê.
Volgens Merwin is bye gedurende die laat somer maande veral fyngevoelig en die geringste dingetjie wat hulle mag beskou as ‘n indringer sal aangeval word. “Hierdie tyd van die jaar is die bye lekker vet, daar is genoeg kos en baie heuning en larwes in die korwe,” het Merwin verduidelik. “Die oumense het van hierdie bye gepraat as ‘n bergbytjie, en as hy vir jou steek, dan voel jy dit, hoor.”
Merwin reken die geraas van Shane se kettingsaag het die bykolonie ontstel, en dit is hoekom hulle tot die aanval oorgegaan het. “As dit warm was en Shane gesweet het, kon dit wees dat hulle hom geruik het ook,” het Merwin verder gesê. Bye, het hy verduidelik, is verskriklik sensitief vir die hormone wat mense en diere afskei in hulle sweet en die bye sal maklik ‘n teiken aanval.
Merwin het vertel van ‘n byekorf wat hy jare gelede verwyder het in die nag toe hy net ‘n bietjie gesweet het. “Die bye het my nog steeds aangeval.” Hy het verder bevestig dat dit nie ongehoord is vir bye om mense so aan te val nie. “Dit is maar net dié tyd van die jaar en die bye sal bedaar teen die tyd wat die winter aanbreek,” het hy gesê.
Intussen is die swerm wat vir Shane aangeval het, vernietig sodat hulle nie meer 'n gevaar vir iemand anders is nie.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
