ADVERTISEMENT:

 

Wyle Dries Joubert (69). Foto verskaf.

Landbou verloor merkwaardige leier

 

News  Date: 21 February 2014

 

Die landbousektor en die streek verloor ‘n sterk, optimistiese leier met die skielike heengaan van mnr. Dries Joubert (69) van Levubu op 16 Februarie.

“Mnr. Joubert is inderdaad ‘n merkwaardige leier wat nie skroom om onpopulêre besluite te neem nie, solank dit tot voordeel van die organisasie is. Sy standvastige Christelike geloof en sterk beginsels maak van hom die tipe leier wat nou meer as ooit tevore benodig word. Hy is ook bekend dat hy bereid is om te waag en sal vreesloos sy organisasie beskerm. Die Noordstreek het onder sy bekwame leiding gegroei tot ‘n reus in TLU SA, maar ook tot ‘n hoofrolspeler in landbou in die Limpopo Provinsie,” het die destydse vise-voorsitter van TLU SA Noord reeds in 2005 gesê.

Oom Dries was voorsitter van Soutpansberg Distrikslandbou-unie vanaf 1996 tot 2004 en lid van die uitvoerende komitee van TLU SA as voorsitter van die noordstreek van 2004 tot 2007.

Andries Gerhardus Joubert is op 19 Maart 1944 op ‘n plaas in die Bothaville-omgewing gebore. Hy het landbou in Pretoria studeer en is op 6 Maart 1965 met Lenie van Rensburg getroud. Uit die huwelik is drie kinders, Jan, Hennie en Hettie, gebore. Hettie het haar pa vooruitgegaan. Na baie jare in die staatsdiens, verlaat Dries die departement van landbou tegniese dienste in 1981 en begin boer op die plaas Maluma in Levubu. Onder sy leiding is verwaarloosde grond ontwikkel tot ‘n volwaardige avokado- en makadamiaboerdery. Die Maluma Hass Avokado word in die 2006 geregistreer en is reeds wêreldbekend.  Nog projekte was die maak van biodiesel en die gebruik van EM (Effektiewe Mikro-organismes) wat regoor die landbousektor gebruik word.

Die huidige SDLU voorsitter, mnr. Stephen Hoffman, onthou oom Dries as een van die mees optimistiese boere wat hy ooit geken het. “Niks kon hom onderkry nie en geen probleem was ooit vir hom te groot nie,” het Hoffman gesê en bygevoeg dat oom Dries geweet het hoe om te beplan, hoe om sy leiers te kies, hoe om hulle as ’n span saam te snoer en hoe om te delegeer en te motiveer.

“Hy het hom nie aan negatiewe, donker toekomspraatjies gesteur nie …  Soveel van ons wat sy jaarverslae beleef het, onthou sy ‘plat-op-die-aarde’ optimisme en die vasberade manier waarop hy sy lewe aangepak het … Hy het sy mense op ‘n heel vriendelike ‘plat-op-die-aarde’ manier verantwoordelik gehou vir die uitvoering van hul take. Dié merkwaardige eienskap is, na my mening, die kern van sy sukses as ongekende bouer van strukture in sy gemeenskap,” het me. Marie Helm, destydse streekbestuurder van die TLU SA, gesê. Marie het Dries as ‘n “wandelende Internet” beskryf wat honderde bladsye navorsingstukke kon lees en gemaklik indringende vrae daaroor kon vra en slaggate daarin kon uitwys.

Die gemeenskap en sy familie sal sy kwinkslae en goeie humorsin onthou.  “Hy het altyd gelag en was altyd bereid om ander te help, selfs in die tye wat dit nie goed gegaan het nie.  Vir Dries was daar altyd tyd vir ‘n ou grappie. Verder het hy altyd baklei vir dit waarin hy geglo het. Hy het graag sy kennis met almal gedeel. Die belangrikste in sy lewe was sy familie; rykdom in geld het vir hom niks beteken nie,” onthou Lenie, sy bruid van meer as 49 jaar.

Sy seun, Hennie, onthou dat hy ‘n oop hart gehad het. “Hy was altyd bereid om ander te help en te gee wat hy kon, soms ten koste van homself. Selfsug was ‘n vloekwoord in sy lewe. Hy was ‘n vriend vir baie en om te gee en te help het hom vreugde gegee.”

Sy seun, Jan, sê dat sy pa ondeund was en met ‘n glimlag tot die einde toe gelewe het. “My pa is ‘n vergeefde sondaar wat die genade wat hy van die Here ontvang het, verstaan en geglo het. Dit het dit vir hom moontlik gemaak om voluit en sonder verwyte te lewe. Om te lewe was vir hom lekker.”

Oom Dries het op 3 Februarie ‘n kolonoperasie in Tzaneen ondergaan, waarna hy na die Zuid-Afrikaanse Hospitaal in Pretoria oorgeplaas is en Dinsdag (11de) ‘n hartoperasie ondergaan het . Dit was uiteraard ‘n groot skok toe hy Saterdag oorlede is. 

‘n Gedenkdiens vir Dries sal op Vrydag, 21 Februarie, om 11:00 in die Levubu gemeenskapsaal plaasvind.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines