ADVERTISEMENT:

 

“Kyk hoe lyk die water waarin ons vanaand moet bad! Jy kom vuiler daaruit as wat jy daarin gegaan het!” het een inwoner van Makhado (Louis Trichardt) gesê na Sondagaand se munisipale water in haar bad die vuilste ooit was. Foto verskaf.

Grillerige water laat weer wenkbroue lug

 

News  Date: 21 February 2014

 

Vuil munisipale water het die afgelope naweek talle inwoners erg laat gril.

“Kyk hoe lyk die water waarin ons vanaand moet bad! Jy kom vuiler daaruit as wat jy daarin gegaan het!” het mev. Marinda van Wyngaardt van Makhado (Louis Trichardt) gesê na Sondagaand se munisipale water in haar bad die vuilste ooit was.

Marinda kan darem nog daaroor lag. Haar dogter, Belinda, het die naweek by haar gekuier.

“Ek dog ek gril my dood. Daar was ook sulke slymerige goed in die water,” het Belinda gesê.

Marinda het gesê dat dié toestand al vanaf November voortduur en dat hulle sulke sarsies vuil water kry wat wissel van ligbruin tot baie erg. “Ek bad gewoonlik laataand en kan amper nie onthou wanneer ek laas in helder, skoon water gebad het nie,” het Marinda gesê.

Mnr. Fransie Davel het op 12 Februarie op die AfriForum webblad gesê die water in Jeppestraat in die industriële gebied lyk soos “sterk tee”.

AfriForum voorsitter mnr. Wally Schultz het ook  ‘n klagte gehad van ‘n inwoner van Proteastraat in die nuwe uitbreiding, wat iets soos wurms in die water gesien het. Schultz het dadelik met die Vhembe Distriksmunisipaliteit, wat vir die dorp se water verantwoordelik is, geskakel. Schultz was teenwoordig terwyl Vhembe amptenare en ‘n span van die Departement van Waterwese toetse by Proteastraat gedoen het.  AfriForum het ook onafhanklike watertoetse gedoen en die monsters na ‘n privaat laboratorium gestuur. Hulle wag nog vir die uitslae.

Vhembe het intussen hul uitslae beskikbaar gestel. Daarvolgens staan  die tellings van koliforme en E-koli wat gevaarlik is vir menslike gesondheid beide op nul, wat reg is volgens die mikro-biologiese veiligheidsvereistes.  Die turbiditeit  (troebelheid) het op 5.0 eenhede gestaan, terwyl die aanbevole limiet kleiner as 1 is, maar dit mag vir ‘n kort periode tussen 1 en 5 wees.  Die chloortelling (vrye of residuele telling) in mg per liter was 0.02 . Dit moet minder as 0.5 wees, maar verkieslik 0.2 in die verpsreidingsisteem (SANS 241 drinkwatervereistes). Die kleur is nie getoets nie.  Volgens SANS is kleur ‘n estetiese vereiste en moet dit ‘n syfer van onder 20 weerspieël.  Dit  sou interessant gewees het om te weet wat ‘n kleurtoets by Marinda se badwater sou oplewer.

Die verduideliking vir die bruin water en “goggas”  wat gesamentlik deur Vhembe en AfriForum gegee is en as tussentydse verduideliking deur hulle aanvaar word,  lui dat dit die gevolg kan wees van water wat teen ‘n sterk druk in die leë reservoirs ingevloei het . “Die sediment of slyk wat onder op die bodem van die leë reservoirs gelê het, kon dalk larwes bevat het. Toe die water in die reservoirs ingekom het, het dit gespuit vanweë die hoër waterdruk omdat die pompstasies reg werk. Sodoende het die slyk opgekom. Ek glo dit sal weer afsak en die regte hoeveelhede chloor sal die larwes en ‘goggas’ vernietig,” het Schultz gesê. 

Daar waar die verkleuring van die water  voortduur, sal moontlik verdere ondersoek ingestel moet word.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines