

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 February 2014
Drie sake-ondernemings in Makhado (Louis Trichardt) het sommer tegelykertyd slagoffers geword van ‘n spul inbrekers.
Dit was ook nie net ondernemings wat deurgeloop het onder die rampokkers nie. Inwoners word ook nog steeds by hul wonings geteiken - terwyl hulle by die huis is. Dit was weereens die geval verlede Donderdag (13de) toe die Kruger-gesin by hul huis in Kameelstraat beroof is terwyl hulle geslaap het.
Sover die Zoutpansberger kon vasstel, het die res van die naweek sonder enige verdere voorvalle verloop – tot Maandagoggend.
In Eltivillas het twee ondernemings Maandag oopgemaak, net om te besef daar skort iets. Tiger Wheel & Tyre en Chauhan & Sons is nie te ver uitmekaar nie, en dit wil voorkom of dieselfde diewe by altwee persele ingebreek het.
Boonop stem die diewe se modus operandi onrusbarend ooreen met soortgelyke inbrake wat verlede jaar dié tyd gepleeg is in die dorp. (Die Zoutpansberger het gedurende 2012 en 2013 oor tientalle soortgelyke inbrake berig, waar daar eers ‘n gat in die dak gemaak is, die alarm gedeaktiveer en die kluise òf oopgesny òf opgeblaas is).
By Tiger Wheel & Tyre het dieselfde gebeur. Snaaks genoeg, het die eienaar mnr. Manny Moodley vertel, vermis hulle tans net die batterypak van die alarmstelsel. “Dit wil nie voorkom of hulle iets anders gesteel het nie,” het Moodley Dinsdag gesê.
Die diewe het egter ‘n verskriklike gemors gemaak toe hulle die winkel verlaat het. In die proses is heelwat buisligte van vertoonkaste en nog drie deure afgebreek. “Dit gaan my baie geld kos om alles weer reg te maak – hulle is ‘n bleddie oorlas.”
‘n Soortgelyke toneel het die Dhoolabs van die Chauhan & Sons winkel begroet toe hulle Maandag hulle deure oopgemaak het vir sake. Satyam Dhoolab, die bestuurder, het eers agtergekom daar skort iets toe die alarmstelsel nie wou werk nie. Hy het sy pa, Shasikant, geskakel en hulle het saam die winkel oopgemaak. By nadere ondersoek het hulle agtergekom daar is ook ‘n gat in die winkeldak – regoor die plek waar die alarmstelsel geïnstalleer is.
Buiten vir die bietjie geld wat die diewe gebuit het uit die kasregister, het hulle die winkel ook omgedop in hulle strooptog. Hier het die diewe sigarette buitgemaak ter waarde van ongeveer R4 000.
Dieselfde oggend is Ash Cash & Carry in Unikastraat ook beroof. Volgens die Makhado Polisie word daar vermoed dat die diewe hier ‘n vurkhyser gebruik het om die hoofingang van die perseel oop te forseer, nadat hulle eers die sekuriteitswagte vasgebind het. Binne-in het die diewe twee kluise en ‘n kasregister oopforseer en derduisende rande gesteel. Die winkel is ook geplunder.
Plaaslike polisiewoordvoerder AO Takalani Madzhigili het bevestig dat die polisie in die geval van Ash Cash & Carry ‘n saak van besigheidsroof ondersoek, en ‘n saak van huisbraak by beide Dhoolabs se winkel en Tiger Wheel & Tyre.
Met drie verskillende sake wat op een dag aangemeld is, het die Zoutpansberger ook vir Madzhigili gevra of die plaaslike polisie tans genoeg tegnici het om misdaadtonele te dokumenteer en fotografeer. Hy het verkies om hierdie vraag nie te antwoord nie.
Die waarnemende stasiebevelvoerder, kol. Magala Rambau, het hom wel hieroor uitgelaat in ‘n brief aan die koerant. Sien brief op bladsy 13.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
