ADVERTISEMENT:

 

Tannie Nelie Fourie het al haar pensioengeld, selfoon en bankkaarte verloor toe twee grypdiewe haar helder oordag beroof het.

Helder oordag oorval

 

News  Date: 06 March 2014

 

“Nou het ek niks.”

Dít is die enigste gedagte wat homself herhaal het by tannie Nelie Fourie (61), ‘n pensioenaris van Makhado (Louis Trichardt), nadat sy helder oordag deur twee rowers aangeval en beroof is.

Tannie Nelie het by die Zoutpansberger kom inloer om te vertel van haar nagmerrie-ervaring op Dinsdag, 4 Februarie. Die skok van die hele affêre was net te veel, sodat tannie Nelie tuis in die bed moes aangesterk het.

Op die dag van die voorval was sy te voet  in Rissikstraat op pad huis toe in Kockstraat, waar sy bly, nadat sy haar sakies in die dorp afgehandel het.

Met die terugstap het twee mans haar genader, en haar regterarm amper uit sy potjie geruk toe hulle na haar geldsakkie geryp het. “Maar jy weet, helder oordag! Hulle het my hier gegryp,” vertel tannie Nelie terwyl sy na haar arm beduie. “Ek kan nie vir jou sê hoe pyn dit van hier af tot hier nie! Helder oordag ... nee, heiligheid, nee man!”

Die hartseerste van die saak, vertel tannie Nelie, is nie net haar geldjies wat sy verloor het nie, maar al haar bank- en pensioenkaarte, asook haar selfoon. “Toe ek terugkom by die huis en my dogter vertel, sê ek vir haar: 'Nou het ek niks, en toe bars ek uit in trane'.”

Tannie Nelie se ID-boekie, wat ook in die geldsakkie was, het sy gelukkig verlede week terug gekry, nadat iemand dit opgetel het en by die polisie ingegee het. “Dankie vir dié vrou, wie ook al sy is ... ek het gesit en panic en panic oor my ID-boek,” het tannie Nelie gesê.

Tannie Nelie het ‘n waarskuwing gehad vir ander inwoners, veral die ouer garde, om op hul hoede te wees sodat hulle nie ‘n volgende keer ook die slagoffers word van grypdiewe nie.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines