

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 March 2014
Die hoof van Hoërskool Louis Trichardt het vinnig opgetree nadat klagtes ontvang is oor die inhoud van DVD’s wat op busse, wat sportspanne die afgelope naweek na en van Ellisras vervoer het, vertoon is.
Die skool het gebruik gemaak van drie luukse busse van die Phadziri-maatskappy om die sportspanne op 1 Maart te vervoer. Dié busse het DVD skerms om vermaak te verskaf om lang ritte gouer te laat verbygaan. In twee van dié busse het die bestuurders DVD’s vertoon. In die derde bus, waarin die waarnemende skoolhoof, mnr. Theo Muller, gereis het, was daar nie DVD’s toegelaat nie.
“Ons verstaan dat daar in die een bus ‘n DVD met geweld en kru taal en ‘n ouderdomsperk van 16 gespeel is. Skynbaar word dieselfde DVD oor DSTV vertoon, maar met die vloekwoorde uitgehaal, wat nie die geval was met die kopie wat in die bus vertoon is nie. In die ander bus is ‘n uiters gewelddadige DVD vertoon, waaroor ouers ook kom kla het,” het Muller gesê.
Een van die ouers, wie se kind op die bus met die uiters gewelddadige DVD was, mnr. Pieter Lubbe, sê dat sy dogter baie ongelukkig daaroor was. “Hulle gebruik die f-woord aanhoudend, daar was baie geweld en hulle het Bybels oopgesny en dwelms daarin vervoer. Dit is teenstrydig met die waardes waarvolgens ons ons kinders opvoed. Ek verstaan dat daar wel ‘n groep kinders was wat gegil het dat dit nie afgesit moet word nie. Ons het egter besluit om die saak dadelik aan te meld,” het Lubbe gesê.
Van die onderwysers wat in die busse met die onsmaaklike DVD-materiaal gereis het, het dit sonder sukses probeer stopsit en in een geval is die klank skynbaar later afgesit.
Die hoof het die saak aan die kinders by die skool verduidelik en om verskoning gevra. “Wat die toekoms betref, sal pastoor Marcel van Niekerk, wat saam met ‘n span ‘n kantoor by die skool beman, goeie opbouende DVD’s gaan uitsoek wat op die busse gespeel sal word. Indien die drywers nie wil saamwerk nie, sal ons ander busse kry. Ons het met die busmaatskappy self gepraat,” het Muller gesê.
Mnr. Johan Minnie, onderwyser van die skool, is getaak om die saak weer op te neem wanneer hy die busse gaan bespreek. Die sportspanne word Saterdag na Mokopane vervoer.
“Die busmaatskappy is in beheer van die bestuur en veiligheid van die bus, maar die kinders is ons verantwoordelikheid en sorg,” het Muller gesê.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
