ADVERTISEMENT:

 

Tripod in sy spesiale rystoel, met sy eienaar en mede-reisgenoot, Marné van den Heever (middel), en Cheri-Lee Wilson (regs) en Jennifer van Zyl (links) van ‘n plaaslike ark, tydens sy besoek aan die dorp verlede week.

Marné en Tripod op laaste skof

 

News  Date: 07 March 2014

 

Makhado (Louis Trichardt) was bevoorreg om verlede week besoek te ontvang van Tripod, ‘n driebeen Border Collie, en sy eienaar, Marné van den Heever, wat hier aangedoen op die laaste skof van hulle staptog tussen Kaapstad en Beitbrug.

Dié twee besonderse reisigers se verhaal begin in Kaapstad, waar Tripod deur ‘n taxi raakgery is in ‘n plakkerskamp en sy regter voorbeen op drie plekke gebreek is. Hy is vir dood agtergelaat en het vir drie weke langs die pad gelê, waar hy geweier het om dood te gaan. Iemand het hom veearts toe geneem, waar daar gespook is om hom deur te haal, maar die been sou moes afgesit word. Toe sy eienaar uiteindelik opgespoor is, het dié aangedui dat hulle eerder die hond moes uitsit. Marné, wat toevallig ook in daardie stadium by die veearts was, het dit gehoor en summier besluit dat so ‘n moedige dier nie verdien om te sterf nie en aangedui dat hy die hond sou aanneem.

Ná Tripod se herstel het Marné, wat ‘n agtergrond in die regswese het, besluit om ‘n veldtog te loods om mense bewus te maak van dierebeskerming en die lot van hawelose diere, deur van Kaapstad tot Beitbrug te stap en geld in te samel. Hy het ‘n gewone rystoel laat inrig met verskeie spesiale toevoegings, soos ‘n dakkie vir Tripod, remme vir die afdraandes en plek om hulle bagasie te bêre. In Januarie verlede jaar het hulle die lang pad na die noorde aangepak.

Oral waar hulle kom, geniet hulle geweldig baie ondersteuning van almal met wie hulle in aanraking kom. Ten spyte van die mishandeling waaraan Tripod onderwerp is, is hy baie lief vir mense, veral kinders. Om daardie rede besoek hulle graag skole om hulle boodskap tuis te bring. Hier ter plaatse het hulle Vrydag besoek gebring aan Louis Trichardt Laerskool, waar hulle saam met die leerlinge gekuier het.

Hulle het geen ondersteuningsisteem wat saam met hulle reis nie, en alhoewel hulle ‘n tent en slaapsak met hulle saamdra, het die twee nog nie een nag nodig gehad om daarin te slaap nie. Oral waar hulle kom, word hulle met ope arms ontvang en kry hulle slaapplek by mense. Volgens Marné het hulle al in van die beste gastehuise in die land geslaap, ook in plekke waar diere nie normaalweg toegelaat word nie. Die twee van hulle beplan glad nie hoe hulle dag moet verloop nie, maar begin soggens vroeg loop wanneer dit nog koel is. Hulle probeer om tussen 20 en 30 kilometer per dag te loop, en het nou al 1 700 kilometer agter die blad. Teen die tyd dat die Zoutpansberger ter perse gaan hierdie week, sal hulle die reis voltooi het. Hulle sou darem nie weer terug loop Kaap toe nie, maar wel per bakkie afry.

Marné se boodskap aan mense is eenvoudig: “Don’t shop, adopt.” Hulle oogmerk met die bewusmakingsveldtog is om hawelose honde, veral beseerdes of mishandeldes, te rehabiliteer en by fisiek-gestremde mense te plaas. Navorsing het bewys dat dit een van die beste terapievorme vir sulke mense is. Persone wat graag tot hierdie poging wil bydra, kan ‘n donasie inbetaal by die trustfonds wat spesiaal hiervoor geskep is. Die besonderhede is: Rekeninghouer: IPDOT, Absa, Rekeningnommer 9253710132.

Danksy G&V Logistics en die Tafelronde, kon Tripod gaan vir ‘n vinnige ondersoek by 'n plaaslike ark, net om seker te maak dat hy die laaste skof met vertroue kon aanpak. Marné het sy dank uitgespreek teenoor al die betrokkenes, ook vir die verblyf wat hulle geniet het.

 

Written by

Nic Hoffmann

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines