ADVERTISEMENT:

 

Funanani Edwin Bugana (40)

Polisie en regslui se harde werk in gevaar

 

News  Date: 07 March 2014

 

Jare se harde werk deur polisie en regslui van Makhado (Louis Trichardt) staan die gevaar om ongedaan gemaak te word.

Dit volg na die arrestasie van ‘n polisiesersant van die Makhado SAPD verlede Donderdag op ‘n klag van gewapende roof.

Dit is nie die eerste klag wat teen sers. Funanani Edwin Bugana (40) gebring word nie. Hy staar tans ook dissiplinêre vervolging van die polisie in die gesig, nadat hy en nog ‘n medebeskuldigde, Rudzani Victor Mphoshomali (38), in Desember verlede jaar naby Musina gearresteer is. Bugana word daarvan verdink dat hy vervalste polisie identifikasiedokumente aan Mphoshomali verskaf het. Dié dokumente sou na bewering gebruik word deur Mphoshomali en nog drie beweerde rowers om ‘n winkel in Musina te beroof.

Die roofverdagtes het egter daarin geslaag om te vlug, maar op grond van inligting wat Mphoshomali na bewering verskaf het, is Bugana later gearresteer.

Bugana is verbonde aan die kriminele rekordsentrum van die Makhado SAPD. ‘n Groot deel van sy pligte bestaan uit die hantering en versameling van polisie bewysstukke. Dit is juis om hierdie rede dat die aanklagte teen hom rampspoedige gevolge kan hê vir ander polisie-ondersoeke. As Bugana skuldig bevind word, mag gevonniste kriminele, volgens wet, daarop aandring dat hulle sake heropen word en die bewyse teen hulle uit die hof gegooi word.  

Na wat die Zoutpansberger verneem van die polisie, is die nuwe klag van gewapende roof teen Bugana gebring na aanleiding van verdere ondersoekwerk wat gedoen is na sy eerste arrestasie.

Provinsiale polisiewoordvoerder brig. Hangwani Mulaudzi het met Bugana se eerste arrestasie bevestig dat daar beslag gelê is op Bugana se staatskamera en -rekenaar. Beweringe dat hy rowers voorsien het van blouligte en selfs sy privaat motor uitgeleen het aan hulle, vorm ook deel van die ondersoek.

Bugana het Maandag (3de) in die Louis Trichardt Distrikshof verskyn op die klag van gewapende roof. Hy is vrygelaat op borg van R5 000 en sy saak is uitgestel tot 20 Maart vir verdere ondersoek.  Die Direkteur van Openbare Vervolging sal ook na verwagting ‘n beslissing maak om te bepaal of die verskillende klagte teen Bugana saamgevoeg sal word in een saak.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines