

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 March 2014
Lewenslange tronkstraf vir die moordenaars van sy seun bring vir ‘n pa van Makhado (Louis Trichardt) ‘n mate van vertroosting.
“Ek is tevrede dat hulle hul straf gekry het, maar dit sal nie my seun terugbring nie,” sê mnr. Piet Bezuidenhout (71). Sy seun, die 36-jarige Pieter (of Pietz, soos hy aan sy vriende bekend was), is op Saterdag, 8 Oktober, omstreeks 08:00 dood gevind met veelvuldige steekwonde in die oprit van die huis in Sitastraat, Potchefstroom, wat hy saam met vriende gedeel het. Alhoewel daar geld by hom gevind is, was sy beursie en selfoon weg.
Die nuus van Pietz se moord het destyds as groot skok gekom vir inwoners van die Soutpansberg. Hy het in 1993 by Hoërskool Louis Trichardt gematrikuleer, waarna hy regte in Potchefstroom gaan studeer het.
Alhoewel Pietz sy studies voltooi het, het hy nooit gepraktiseer nie. Hy het hom aangesluit by die O’Hagans-span op Die Bult in Potchefstroom, ‘n gewilde kuierplek vir studente. As deel van die bestuur daar was Pietz welbekend onder die studente.
Die twee mans wat in verband met Pietz se dood aangekeer is, Kagiso Solly Tibu (31) en Edward Letlhagoholo Moretlwe (25), is verlede Dinsdag in die rondgaande hof in Potchefstroom lewenslange gevangenisstraf opgelê deur Regter Frits van Oosten. Beide Tibu en Moretlwe het skuld erken op die moord. Hulle is ook ‘n addisionele 15 jaar gevangenisstraf opgelê op die klag van roof met verswarende omstandighede.
“Ek is net bly dit is verby,” het pa Piet Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
