ADVERTISEMENT:

 

Jong meisie wreed deur honde verskeur

 

News  Date: 02 May 2003

 

BUYSDORP - Soos 'n lappop het die drie honde haar liggaampie in die stofstraat rondgepluk. Haar rokkie is in flarde geruk en met bebloede armpies het klein Elmay Buys (7) haar bes probeer om hul kake van haar weg te hou.

Klein Elmay is gelukkig om te lewe. Sy en drie maatjies het verlede Vrydag na skool te voet huis toe gestap. Skielik het drie honde, nogal Rottweiler-kruisings, vanuit 'n buurman se erf op hul afgestorm. Elmay en haar maatjies het omgedraai en begin hardloop. Haar skoolsak het egter geval en sy het gestop om dit op te tel. Weer het sy begin hardloop en weer het die sak geval. In daardie stadium was die drie honde byna op haar en sy het die sak agtergelaat en in 'n bos gaan skuiling soek.

Dit het die honde egter nie lank gevat om haar uit te snuffel nie. Hulle het die bos binnegestorm, haar aan haar nek gegryp en terug gesleep pad toe waar hulle haar behoorlik toegetakel het.

Intussen het haar maatjies hulp ontbied. Minute later is die honde verwilder, waarna hulle die bebloede Elmay regop gehelp het. Eers wou hulle haar huis toe neem, maar gelukkig vir Elmay het haar maatjies 'n onderwyser, mnr. Petrus Simons, in sy motor gewaar. Hy het gestop en haar dadelik na die polisiestasie op Mara geneem, vanwaar sy per ambulans deurgejaag is na die Gedenkhospitaal op Louis Trichardt. Onderweg het sy vanweë ernstige bloedverlies haar bewussyn verloor, maar gelukkig genoeg dit weer herwin kort voor haar aankoms by die hospitaal.

Hospitaalpersoneel het met skok gekyk na die erge graad van Elmay se beserings. Daar was feitlik nie 'n plek op haar liggaam waar die honde haar nie gebyt het nie, ondermeer op haar kop, gesig, nek, rug, bolyf, beide bene en beide arms. Al wat van haar rokkie oorgebly het, was 'n paar bebloede stukkies lap.

Vanaf haar hospitaalbed het klein Elmay se pa, mnr. Saint Buys, Dinsdag gesê dat haar toestand stabiel is. Sy was egter steeds erg gekneus, geswel en verbind. 'n Paar uur tevore moes sy weer 'n operasie ondergaan om van die bytplekke te herstel. Mnr. Buys, wat in Johannesburg werk en ten tye van die voorval nie tuis was nie, sê hy weet nie hoe lank sy nog in die hospitaal sal moet bly nie. Hy sê die polisie op Mara ondersoek die voorval. Die honde is ook steeds op vrye voet.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines