ADVERTISEMENT:

 

Oproepdiewe nou ook in dorp bedrywig

 

News  Date: 02 May 2003

 

LOUIS TRICHARDT – Telefoonbedrieërs slaan nou toe met oproepdiefstalle binne die dorp. Hierdie keer was dit mnr. Jan Loots, woonagtig in die nuwe uitbreiding, wie se telefoonrekening van meer as R5000 hom die joos in gemaak het.

Voorheen het die klagtes van oproepdiefstalle in die omgewing meestal gekom van inwoners op plase of hoewes, veral van die Rondebosch-omgewing en plase op die Vivo-pad. Telefoonbedrieërs raak skynbaar nou so arrogant dat hulle in die bewoonde gebied op 'n telefoonlyn aanhak en oproepe steel.

Mev. Kitta Loots sê dat hulle telefoon vir 'n geruime tyd in die laatmiddag of aand buite werking geraak het. Wanneer sy dit soggens wou aanmeld, dan was die telefoon weer in werking. Vir die afgelope drie maande het hulle begin om state aan te vra wat elke oproep uiteensit. Daarop het hulle gesien dat daar elke aand ongeveer agt vreemde oproepe na 'n plaaslike nommer gemaak word. Die nommer het behoort aan 'n faksmasjien van 'n plaaslike kafee. Mnr. Loots se besoek aan die kafee kon nie veel lig op die saak werp nie. Daarna het die oproepe na daardie nommer na drie uur soggens verskuif. Hulle het die saak daar gelaat.

Mnr. Loots is 'n bemarker by Vleissentraal en gebruik sy huis telefoon vir sy besigheid. Hulle was dus gewoond aan telefoonrekeninge van bo R2 000. April se rekening van R5,796.36 was egter vir die Lootse 'n groot skok, met internasionale oproepe na ondermeer Burundi, Bangladesj, Ethiopië, Eritrea, Indië, Kanada, Kenia, Pakistan, Rwanda, Saoedi-Arabië, Senegal, Spanje, Switserland, Amerika, Verenigde Koninkryk en Zaïre. Hierdie oproepe is op 13 April gemaak toe hulle foon van sewe tot twaalfuur die aand buite werking was. Op die aand van 1 April was hulle telefoon ook buite werking, terwyl 'n swetterjoel selfoonoproepe op hulle rekening verskyn vir daardie tydperk.

Die mangat waar die Lootse se telefoonkabel inkom, is in bewoonde gebied geleë in die nuwe uitbreiding. 'n Tegnikus met wie hulle gepraat het, het vermoed dat die telefoonoproepdiewe selfs binne in die gat kan klim en dan ongemerk die diefstal kan pleeg. Daar bestaan ook 'n vermoede dat kundiges inligting oor hoe om op 'n lyn aan te hak, verkoop aan oproepdiewe.

Telkom se Senior Bestuurder: Korporatiewe Kommunikasie, me. Ingrid Krige, het vandeesweek gesê dat Telkom stuksgewys alarms by mangate installeer. "Die probleem beweeg rond en daar word nie alarms by alle mangate geïnstalleer nie," het me. Krige gesê.

Teen Woensdag het sy nog nie inligting beskikbaar gehad oor die vordering met alarms by die mangate in die Limpopo en spesifiek die Makhado Munisipale area nie.

Volgens Telkom, verloor hulle jaarliks R174 miljoen aan gesteelde telefoonoproepe. Die mees algemene bedrog is waar die telefoonbedrieërs op 'n telefoon lyn aanhak, (clip-on fraud) en dan oproepe na oorsese bestemmings verkoop teen 'n veel goedkoper tarief as Telkom.

Telkom raai kliënte aan om 10210 (Rekening Navrae) te kontak wanneer hulle oproepe op hul rekening identifiseer wat nie deur hulself, vriende of familie vanaf hulle telefoon gemaak is nie. 'n Dispuut sal dan aanhangig gemaak word namens die kliënt en die saak sal ondersoek word. Indien bewyse gevind word dat daar met 'n kliënt se lyn gepeuter is, sal Telkom die kliënt se rekening krediteer met die bedrag gelykstaande aan die waarde van die ongemagtigde oproepe.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines