ADVERTISEMENT:

 

Wildstropers dikwels skotvry oor min bewyse

 

News  Date: 25 April 2003

 

LOUIS TRICHARDT – Mnr. Reyno Mostert, beheeraanklaer by die plaaslike Magistraatskantore, het Woensdag inwoners uitgenooi om klagtes in verband met hofsake persoonlik met hom te kom bespreek.

Dit volg na verskeie klagtes in verband met verdagtes wat minimale skulderkenningsboetes betaal of sake wat deur die hof uitgegooi word. Een só 'n saak spruit uit 'n voorval op 1 Februarie vanjaar toe vyf beweerde onwettige jagters met 'n vlakvarkkarkas en tien jaghonde naby die Capricorn Tolpaza in 'n voertuig betrap is. Een van die aangekeerdes, wat reeds op borg uit is vir 'n soortgelyke oortreding, het later 'n minimale bedrag as skulderkening betaal en is ontslaan.

Mnr. Mostert het verduidelik dat meeste mense nie regtig bewus is oor hoe die wet werk nie en ook nie baie kennis het oor die wet nie. Hy sê dat Suid-Afrika se wet geskoei is op die Romeins en Engelse regsbeginsels wat ook in die VSA van toepassing is. Daar is niks snaaks omtrent die wet nie en dit is dieselfde regsbeginsels wat voor 1994 van toepassing was.

Mnr. Mostert sê dat geen mens onskuldig in die tronk wil gaan sit nie. Dit vorm dan ook die kruks van land se regsbeginsels. Skuldlas, sê hy, is die grootste bydraende faktor as dit kom by 'n skuldigbevinding en dit moet bo enige redelike twyfel deur die Staat bewys kan word. Dit is juis die kwessie rondom skuldlas, sê mnr. Mostert, wat sake soms baie moeilik maak vir Staatsaanklaers. Mnr. Mostert het as voorbeeld die saak van 12 Februarie voorgehou. Hy het verduidelik dat, alhoewel baie mense doodeenvoudig sou sê dat dit duidelik is dat die mense skuldig is, die wet nie so werk nie.

"Hoe bewys jy wie van die vyf persone die vark gejag het? Hoe bewys jy waar die vark gejag is? Was al die mense op die bakkie bewus daarvan dat daar 'n vlakvarkkarkas op die bakkie was? Was een of meer van hulle nie dalk voetgangers wat deur die bestuurder van die bakkie opgetel is nie. In dié geval rus die bewyslas van skuld baie swaar op die skouers van die aanklaer. As daar nie feite is om die aanklagte te staaf nie, hoe kan die aanklaer iemand skuldig bevind," het mnr. Mostert verduidelik.

Mnr. Mostert sê hy het al by verskeie mense die beginsel van "die skoen aan die ander voet" verduidelik. In kort kom dit daarop neer dat, byvoorbeeld, 'n persoon gaan kuier vir 'n boer op sy plaas. As afskeidsgeskenk gee die boer vir hom 'n lekker bosbokboudjie. Skaars by die plaashek uit word die persoon by 'n padblokkade afgetrek. Sou 'n redelike mens dit as regverdig beskou dat die persoon, asook sy familielede in die voertuig, summier van onwettige jag aangekla word, skuldig bevind word en tronk toe gestuur word? Nog 'n voorbeeld is wanneer 'n persoon in 'n minibus-taxi by die minibus-staanplek met 'n sak wildvleis betrap word. Sou dit regverdig wees om almal in die minibus-taxi te arresteer? Wat die kwessie rondom die betaling van skulderkeningsboetes betref, het mnr. Mostert gesê dat mense hulself nie moet blind staar teen die bedrag wat betaal word nie. Die bedrag word betaal na aanleiding van die persoon se omstandighede.

Meer belangrik, sê mnr. Mostert, is om te onthou dat die persoon deur die betaling van 'n skulderkeninsgboete inderdaad 'n kriminele rekord kry. Vyf jaar later, sê hy, kan die persoon 'n soortgelyke oortreding begaan. Dit is dan, sê mnr. Mostert, wat 'n kriminele rekord sterk teen hom gaan tel in 'n hofsaak. Mnr. Mostert het inwoners uitgenooi om met hom te kom praat as hulle klagtes of probleme het met hofsake. Hy het dit weereens benadruk persone, en veral boere wat sukkel met onwettige jagters, hofsake moet bywoon en die aanklaer inlig oor moontlike verswarende omstandighede.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines