ADVERTISEMENT:

 

Dokter Smalle op sterfbed

 

News  Date: 25 April 2003

 

LOUIS TRICHARDT - "Ek wil graag dankie sê vir almal in die gemeenskap – van alle rasse, kultuurgroepe en geloofsoortuigings – wat deur die jare met hul vertroue en steun dit vir my moontlik gemaak het om dokter te kan wees. Vir die mense van Ons Tuiste en ander bejaardes vir wie ek die afgelope dertig jaar kon dien - Baie dankie vir jul gebede en ek hoop ons sien mekaar weer eendag." So het dr. Marc Smalle vandeesweek sy dankbaarheid en waardering uitgespreek na die spontane opwelling van deernisvolle goeie wense wat uit die plaaslike gemeenskap gevolg het op die nuus van sy ernstige siekte.

'n Standhoudende stroom van telefoonoproepe, kaartjies en gebede is gerig op die gesinswoning, waar Dr. Smalle onder intensiewe sorg verkeer. Dr. Smalle het vandeesweek self rustig vertel van die skielike pyn drie weke gelede, die spesialis toetse en die diagnose.

"Dit is baie erge kanker."

Terwyl hy hieroor rustig gesels en selfs, terloops, vertel van sy begrafnis reëlings, is daar 'n onmiskenbare vonkel in die donker oë en glim sy kenmerkende fyn humorsin deur in die gesprek. Sy intieme betrokkenheid by die gemeenskap waarin hy vir meer as drie dekades gedien het, lê hom duidelik baie na aan die hart.

Dr. Smalle het in die Louis Trichardt-gemeenskap inderdaad die mantel geërf van legendariese geneeshere soos ondermeer dr. Kirk-Cohen, wat sedert die Tweede Wêreldoorlog die gemeenskap se lief en leed gedeel het.

Dr. Smalle, wat in Izegem in België gebore is, het op sestienjarige leeftyd na Suid-Afrika gekom, hier gematrikuleer, aan die Univeristiet van Pretoria gestudeer en hom in die jare sewentig op Louis Trichardt gevestig.

"Dit was altyd aangenaam hier op Louis Trichardt. Deur die jare was daar soveel steun, soveel vertroue van mense, baie het vir my geskenke gegee - porselein en so meer. Ek was dokter, het probeer om ook opvoeder te wees en kunsversamelaar."

Vir inwoners van Louis Trichardt is sy naam 'n huishoudelike woord. "'n Dokter wat altyd enige tyd dadelik sal help. 'n Dokter wat eerder in jou gesondheid as in jou geldsake belangstel," so reageer Louis Trichardt se inwoners wanneer die naam van dr. Marc Smalle genoem word. By Ons Tuiste sê hulle: "Hy was altyd nog ons almal se dokter." Vir sommige is die naam ook sinoniem met 'n indrukwekkende versameling Afrika kuns en antieke porselein.

Die dokter wat vir etlike dekades reeds 'n wesenlike deel van die gemeenskap is en wie se naam verweef is in talle legendariese staaltjies - veral oor uitkoms in nood - is die afgelope weke so deur 'n spesialis kollega opgesom: "Ek bewonder jou moed. Ek bewonder jou integriteit. Ek bewonder jou lewenskuns."

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines