

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 April 2003
LOUIS TRICHARDT – "Get out! Get out! I'll shoot your wife and kids!" Oor en oor bulder die gewapende man die woord uit, sy 9mm-pistool sentimeters van Johan se kop. Vir 'n oomblik oorweeg Johan om na sy rewolwer onder sy sitplek te gryp, maar iets sê vir hom hy moet liewer niks doen nie.
Johan van Tonder van Louis Trichardt, tesame met sy vrou, Heloïse, en hul twee dogtertjies, Simoné (12) en Johanine (10), kan hulself gelukkig ag om nog te leef, nadat vier gewapende mans hul dubbelkajuit bakkie op gewelddadige wyse op 10 April in Elarduspark in Pretoria gekaap het.
Johan het Dinsdag heel kalm vertel van hul angswekkende ervaring. Kalm ja, maar in sy gemoed draai die duiwel rond.
Johan sê dat hy vir Heloïse na Pretoria moes neem vir mediese toetse. Hulle sou by sy swaer in Elarduspark oorbly. Met hul aankoms by sy swaer se woning omstreeks 19:20, het Eloïse en Simoné uitgeklim om die klokkie te gaan druk en die familie te laat weet van hul aankoms. Dit was reeds donker.
"Skielik hoor ek hoe Johanine skreeu 'Pappa help my!' Ek het eers gedink dit is my swaer se hond wat haar pla en het vir haar gesê sy moet die deur toemaak. Toe sy die deur toeslaan het ek omgekyk na waar sy op die agterste sitplek sit. Dit was toe dat ek besef het wat aangaan," vertel Johan.
'n Gewapende man het uit die donker na Johan gestap na waar hy agter die stuurwiel van sy bakkie gesit het. Die venster was toe. Hy het met sy 9mm-pistool, slegs sentimeters van Johan se kop, teen die venster gekap en herhaaldelik geskreeu: "Get out! Get out! I'll shoot your wife and kids!" Johanine is intussen ook uit die bakkie geruk.
Johan het op daardie stadium nie geweet waar sy familie is nie. Sy dakliggie was aan en dit was donker. Hy kon niks sien wat aangaan buite die bakkie nie. Oomblikke later het 'n tweede man by die passasiersdeur ingespring. Vir 'n oomblik, sê Johan, het hy oorweeg om sy 357-rewolwer onder sy sitplek te gryp en die man op die passasiersitplek te skiet. Iets het egter vir hom gesê om dit nie te doen nie. Die gewapende man by sy venster was uiters aggressief en het hom herhaaldelik gedreig om stil te sit met sy hande op die stuurwiel. Met die pistool steeds na Johan se kop gerig, het die man sy hand by die agterste deur ingedruk en sy deur van binne oopgesluit.
Johan is hardhandig uit sy bakkie geruk en op die plaveisel gegooi. Sy kop is teen 'n boom vasgedruk, waarna hy deeglik van kop tot tone deursoek is. Hy is van alles van waarde beroof, behalwe sy trouring wat hy bewaar het deur sy hande in 'n vuis te hou.
"Die hele tyd wat ek daar gelê het, het ek gebid. Ek het aanhoudend gebid," vertel Johan.
Intussen is Heloïse en haar twee dogters anderkant die bakkie deur twee ander mans aangehou. Die mans het herhaaldelik vir hulle gesê: "Sit down! Sit down! Be calm, we won't hurt you."
Dinge het egter veel slegter gelyk vir Johan. Die man wat by die passasiersdeur ingespring het, kon daarin slaag om die bakkie aan te sluit. Sy drie makkers het in die bakkie gespring en 'n trurat agteruit gejaag. Dit was toe dat die man met die 9mm-pistool twee skote op Johan afvuur. Die eerste koeël het langs Johan se kop in die boom vasgeslaan. Skrapies op sy voorkop is stille getuienis van hoe amper dit 'n doodskoot was. Die tweede koeël het hom in die lae rug getref en sy rugstring rakelings gemis. Gelukkig vir Johan het die koeël deurgetrek. Kort na die skietery het Heloïse gehardloop om die klokkie te druk. Die gewonde Johan het op sy beurt oor 'n heining gespring en na sy swaer se voordeur gehardloop. Hy het sy swaer meegedeel dat sy motor gekaap is, dat hy gewond is en dat die polisie ontbied moet word. Vier ure later is sy bakkie feitlik onbeskadig in Tembisa gevind. Daar was egter geen teken van sy rewolwer, hul bagasie, beursies en selfone nie.
Johan sê die polisie het hom meegedeel dat hul aanvallers hul heel moontlik vir 'n geruime tyd agtervolg het. Dit was teen druktyd nie seker of enige verdagtes al in verband met die voorval aangekeer is nie. Johan is opgeneem vir mediese behandeling en is 'n paar dae na die voorval uit die hospitaal ontslaan. Johan sê hy sukkel steeds om die voorval te verwerk. Meer ontstellend vir hom is die feit dat dit die tweede keer is dat sy vrou en twee dogters onderwerp is aan só 'n gewelddadige misdaad. Ongeveer twee jaar gelede het hulle hulself in die middel van 'n gewapende roof by 'n juwelierswinkel in Moretelepark in Pretoria bevind. Al drie van hulle moes inderhaas skuiling onder 'n tafel soek, nadat die rowers wild begin skote afvuur het.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
