

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 April 2003
LOUIS TRICHARDT – 'n Vergelyking met vorige jare het die plaaslike nood- en reddingsdienste 'n betreklike stil Paasnaweek beleef. Ten spyte hiervan het twee mense steeds hul lewens op die streek se paaie verloor.
Met die aanbreek van die langnaweek is 'n voetganger op 17 April doodgery, kort duskant die padblokkade by die weegbrug op die N1 na Polokwane. Dieselfde dag rol 'n voertuig sowat vyf kilometer uit op die Levubu-pad. Een persoon is ernstig beseer, terwyl twee ander ligte beserings opdoen in die ongeluk.
Die meeste ongelukke is op Goeie Vrydag aangemeld. Twee mense word lig beseer, nadat twee voertuie op die Giyani/Elim-pad met mekaar bots. Daarna rol 'n minibussie op die N1-noord sowat vyftien kilometer uit Louis Trichardt. Gelukkig is niemand beseer tydens dié ongeluk nie. 'n Tweede voertuig rol dieselfde dag op die N1-suid sowat twaalf kilometer vanaf Louis Trichardt en vyf mense doen ligte beserings op. 'n Rondloper bees in die pad veroorsaak daarna dat een persoon lig beseer word, na 'n botsing op die Vivo-pad. Die bees het dit nie gemaak nie. Die laaste ongeluk op Goeie Vrydag het by Madombidza plaasgevind, nadat 'n persoon sonder bestuurslisensie in 'n onpadwaardige voertuig tussen 'n skare voetgangers ingeploeg het. Die bestuurder was klaarblyklik ook onder die invloed van alkohol. Een persoon word ernstig beseer, terwyl twee ligte beserings opdoen.
Die tweede persone wat die afgelope naweek gesterf het, is op Sondag (20ste) dood na 'n kop-teen-kop botsing op die N1-noord naby die Ingwe Hotel. Later die dag klim die bestuurder van 'n feitlik splinternuwe voertuig ongedeerd uit sy motor, nadat hy homself misgis met die T-aansluiting by die Witvlag/N1-kruising.
Die bestuurder kon nie betyds stop nie, waarna sy motor teen die hoë wal oorkant die kruising uitgeploeg het.

ADVERTISEMENT:
