

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 April 2003
LOUIS TRICHARDT - Die vyftienjarige Marli Knoetze van Hoërskool Louis Trichardt, wat sedert die begin van die jaar reeds verskeie nasionale titels ingepalm het, het die afgelope naweek weereens bevestig waarom sy as een van die land se mees belowende en top atlete in haar ouderdomsgroep beskou word.
Marli palm tydens die Suid-Afrikaanse Jeug Kampioenskappe in Durban twee goue medaljes in, deur beide die gewigstoot en diskusgooi vir DO/18 te wen. Haar wenafstand in die gewigstoot en diskus was onderskeidelik 14,42 meter en 44,82 meter. Spanmaat Louis Botha (14), ook van Hoërskool Louis Trichardt, het hom ook goed van sy taak gekwyt en palm twee silwer medaljes in. Hy eindig tweede in beide die gewigstoot en diskusgooi vir SO/16 met wenafstande van onderskeidelik 16,38 meter en 49,36 meter.
Buiten vir Marli se prestasies die afgelope naweek, het sy ook uitmuntend presteer tydens die Junior ASA (Atletiek Suid-Afrika) Kampioenskappe vir O/20-atlete in Pretoria op 5 en 6 April. As vyftienjarige atleet wen sy die O/20-gewigstoot-afdeling met ‘n stoot van 14,94 meter. Sy eindig ook tweede in die diskusgooi vir O/20-atlete met ‘n gooi van 44,17 meter. Sedert die begin van die jaar het sy op hierdie stadium reeds vyf nasionale titels ingepalm.
Marli en Louis was ook tydens die USSASA (United Schools Sport Association of South Africa) Kampioenskappe in Port Elizabeth einde Maart verantwoordelik vir ‘n paar van die provinsie se beste prestasies. Van die ses medaljes wat die provinsie tydens dié byeenkoms ingepalm het, was Marli (twee goud) en Louis (een silwer) verantwoordelik vir drie. Marli is ook na afloop van die genoemde byeenkomste onderskeidelik opgeneem in die USSASA O/17-span wat in Junie na Frankryk sal reis, asook Atletiek Suid-Afrika se O/17-span wat in Julie gaan deelneem aan die Wêreld Jeug Kampioenskappe in Kanada.
Marli en Louis het hul dank uitgespreek teenoor die gemeenskappe van Levubu, Louis Trichardt en Musina wat hulle ondersteun in hul prestasies. Hulle het ‘n spesiale woord van dank gerig aan hul afrigter, mnr. Robbie Robberts van Levubu, vir die tyd en moeite wat hy aan hulle bestee.

ADVERTISEMENT:
