ADVERTISEMENT:

 

Streek in droogtegreep

 

News  Date: 18 April 2003

 

LOUIS TRICHARDT - Boere in die streek staar tans ‘n donker toekoms in die gesig ten opsigte van die knellende droogte en komende winter. Huidige voorspellings is dat die probleem dramaties sal vererger, alvorens dit sal verbeter.

Die situasie grens aan ‘n natuurramp met die Premier van die Limpopo Provinsie, Ngoako Ramathlodi, wat reeds President Thabo Mbeki versoek het om dele van die provinsie as rampgebied te verklaar. Dit sluit onder meer in gebiede in die distrikte Soutpansberg, Blouberg, Musina, Alldays en Ellisras. ‘n Woordvoerder van die Premier se kantoor, adv. Tommy Ntsewa, het intussen bevestig dat die provinsiale tesourie-afdeling R6mil opsy gesit het vir die subsidiëring van noodvoer. Hy het die huidige droogtetoestand in die provinsie vergelyk met die groot droogte van 1983 en gesê dat die Premier in sy versoek aan die Staatspresident om dele van die provinsie tot rampgebied te verklaar, ook versoek het dat die bedrag van R6mil verhoog moet word na R46mil.

Mnr. Phuti Seloba van die provinsiale Departement van Landbou het Woensdag gesê dat Blouberg die gebied is wat tans die ergste gebuk gaan onder die droogte. Hy sê dat veevrektes reeds sowat 10% van ‘n beraamde 170 000 beeste beloop. Mnr. Seloba sê dat kommunale boere reeds sedert die begin van April kan aansoek doen vir ‘n staats-subsidie vir die aankoop van noodvoer teen 25% van die vasgestelde prys. Hy sê dat kommunale boere die ergste geraak word deur die droogte en dat hulle kan aansoek doen om ‘n subsidie by enige van die departement se streekkantore. Dié subsidies, sê mnr. Seloba, is egter tans nié beskikbaar vir privaat kommersiële boere nie. Mnr. Seloba sê dat die R6mil wat bewillig is, skaars genoeg is om die bestaande kommunale boere te help. Hy was uiters skepties oor die komende winter en het gesê hy verwag dat die probleem drasties sal vererger. Selfs al val daar goeie lentereën, het mnr. Seloba gesê, is daar gebiede waar die veld so oorbewei is dat dit letterlik maande sal neem om te herstel.

Die voorsitter van die Soutpansberg Distriks Landbou-unie, mnr. Dries Joubert, was ook nie baie hoopvol ten opsigte van die komende winter en heersende droogte nie. Hy sê dat alhoewel boere suid van die Soutpansberg in hierdie stadium nie so ‘n ernstige probleem met die droogte ondervind nie, dié situasie drasties kan verander gedurende die winter. Die situasie noord van die Soutpansberg, sê mnr. Joubert, lyk reeds baie desperaat.

Mnr. Joubert sê dat hy nog nie gehoor het van veevrektes by kommersiële boere nie, maar dat daar wel gevalle was van wildvrektes. Dié situasie, sê hy, het egter gestabiliseer na einde verlede jaar se reënneerslae wat die blaarkomponent weer teruggebring het na bome.

Buiten hiervoor, sê mnr. Joubert, het baie boere ook reeds begin met die aankoop van ekstra voer.

Mnr. Joubert het egter geen illusies rondom die komende winter nie. Sou dit ‘n baie koue winter wees, sê mnr. Joubert, sal bome vinnig hul blare verloor. Dit, sê hy, sal weer ‘n tekort aan weiding vir wild tot gevolg hê. Mnr. Joubert het ook genoem dat as die persentasie veevrektes reeds 10% in die provinsie beloop, dit persentasie eerder sal styg alvorens dit sal afneem. Hy het ook mnr. Seloba se woorde beaam dat selfs al reën dit in die winter of vroeë lente, die veld lank sal neem om te herstel.

Intussen het die Makhado Munisipaliteit se Munisipale Bestuurder, mnr. Reuben Rambado, bevestig dat waterbeperkings steeds in die dorp van krag is. Die waterbeperkings is einde Oktober verlede jaar deur die Raad in werking gestel. In daardie stadium is daar berig dat die beperkings noodsaaklik was vanweë opgraderingswerk aan die dorp se watersuiweringsaanleg en die boor van ‘n verdere vyf munisipale boorgate wat aan die netwerk gekoppel moet word. Die waterbeperkings behels steeds dat inwoners met gelyke straatnommers hul tuine Maandae, Woensdae en Vrydae vanaf 16:00 tot 20:00 mag natgooi met ‘n tuinslang, mits die tuinslang in die hand vasgehou word. Inwoners met ongelyke straatnommers kan hul tuine Dinsdae, Donderdae en Saterdae gedurende dieselfde tye natgooi. Geen sproeiers mag gebruik word nie. Die vlak van die Albasinidam het Woensdag op 69,74% gestaan.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines