ADVERTISEMENT:

 

Piet Pretorius (links), eienaar en gesoute drukker, saam met Deon Greyling van Summit Tow-in by van die masjiene wat vanuit Kirsten's Drukkery geskuif is na 'n nuwe besigheidsperseel die afgelope week.

Harde werk om geskiedenis te skuif

 

News  Date: 04 April 2014

 

Dit verg inspanning, moeite en sommer baie elbow grease om geskiedenis te skuif.

Die Zoutpansberger is vandeesweek genooi om te gaan kyk hoe Kirsten’s Drukkery op Makhado (Louis Trichardt) se masjinerie van meer as 'n halfeeu met groot moeite verskuif word.

Kirsten’s Drukkery is een van die oudste en bekendste ondernemings in die dorp. Die drukkery is in September 1958 deur oom Dick Kirsten op die been gebring. Die eerste perseel vir die drukkery was in Munnikstraat, waar LTT Electrical vandag staan. In 1960 het die drukkery verskuif na Songozwistraat, waar daar sake gedoen is tot verlede week. Mettertyd het oom Dick se vrou, tannie Esther, ook skryfbehoeftes vanuit die drukkery se kantoor begin verkoop en só het Kirsten’s Boekwinkel begin. 

Na oom Dick se afsterwe in 1997 het tannie Esther nog sake bedryf tot 2001. Die boekwinkel het intussen uitgebrei, en is bedryf vanuit die perseel waar Ocean Basket nou is. Hierna het haar seun, Johan, oorgeneem as bestuurder van die boekwinkel, terwyl man-en-vrou-span Pieter en Dee Pretorius die drukkery bestuur het.

Gedurende 2010 tot 2011, het Pieter en Dee eers die drukkery en later die boekwinkel by Johan oorgekoop. Beide winkels het terug verskuif na die oorspronklike perseel, terwyl die ou winkel op die hoek van Songozwi- en Andersonstraat omskep is in ‘n Ocean Basket restaurant.

Maandag het Pieter en Dee begin om beide winkels oor te trek na hul nuwe perseel in Songozwistraat. Die besighede sal voortaan bedryf word uit die besigheidskompleks oorkant die karavaanpark.

Dit was egter die drukkery wat die grootste uitdaging gebied het. Niemand wou die lomp, swaar ou drukperse skuif nie. “Ek was al na aan trane toe ek vir Deon van Summit Towing gebel het,” het Dee vertel. Deon het dadelik sy personeel en insleepvoertuig beskikbaar gestel. Dié proses het vir ‘n paar benoude oomblikke gesorg. “Ek het ‘n paar keer gedink: Vanaand slaap ek langs ‘n paar derms,” het Dee vertel oor Piet wat amper onder een van sy masjiene beland het.

Vir die egpaar was die kersie op die koek egter dat Deon die verskuiwing gratis vir hulle gedoen het. “Ons sal hom en sy personeel ewig dankbaar wees,” het Dee en Pieter gesê. “Hulle het ons uit ‘n groot penarie gehelp.”

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines