

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 April 2003
LOUIS TRICHARDT – Is 'n onafhanklike groep binne die SAPD besig om amptelike gesag te misbruik om verskuilde persoonlike en rassistiese agendas deur te voer?
Die wesentlike moontlikheid van so 'n wettelose, rassistiese en kwaadwillige groepering binne die SAPD in die Limpopo Provinsie is skerp in die kollig na nog 'n opsienbarende insident, wat verlede week op die plaas van 'n senior bestuurslid van die Soutpansberg Distriks Landbou-unie, mnr. Gideon Meiring, afgespeel het. Die insident, waarin 'n konvooi polisievoertuie van Musina sonder afspraak by die Meiring-opstal opgedaag het, herinner sterk aan die Viviers-saak, wat onlangs met 'n skikking buite die hof ten einde geloop het.
Volgens ooggetuies het 'n konvooi van ses polisievoertuie verlede Dinsdag op mnr. Meiring se plaas opgedaag en na hom gesoek. Polisiebeamptes in die voertuie het na bewering by verskeie mense op die plaas en in die omgewing navraag gedoen oor waar mnr. Meiring hom bevind. Toe hulle hom nie by sy woonhuis aantref nie, het hulle weer vertrek.
Telefoniese navrae by die polisie op plaaslike, area- en nasionale vlak kon vir die duur van verlede week geen lig werp op die voorval nie. Nie een van die betrokke amptelike polisie media woordvoerders het enige kennis gedra van so 'n voorval nie.
Navraag op nasionale vlak het aanvanklik daarop gedui dat die insident nie verband kon hou met enige nasionale Hopper-tipe operasie nie, aangesien die polisie op al die betrokke vlakke dan daarvan kennis sou dra.
Nadat dit vandeesweek bekend geword het dat mnr. Meiring regsoptrede teen die betrokke lede van die polisiemag beoog, het 'n polisie offisier vandeesweek by navraag gesê die beoogde klopjag teen mnr. Meiring, het deel uitgemaak van "Operasie Sethunya" – 'n nasionale operasie wat landwyd uitgevoer is, onder andere ook op Musina en omgewing. Die doel was om te kyk of vuurwapenlisensiehouers die bepalings van die nuwe wapenwet nakom.
Senior Superintendent Ronnie van Niekerk, Areahoof van Misdaadvoorkoming, het gesê die polisie het verlede Dinsdagoggend 'n operasie uitgevoer vanaf 07:00 die oggend, waartydens verskeie adresse in die dorp en op plase besoek is. Mnr. Meiring se plaas is ook besoek, maar hy is nie daar aangetref nie. Senior Superintendent Van Niekerk sê hy het verneem dat mnr. Meiring 'n klag wou lê.
"Die klag sal afgeneem word en terugvoer sal op meriete deur die regte kanale gegee word."
Oor die klag, vermoedelik betreding sonder toestemming, het Supt. Van Niekerk verwys na die Area Landelike Beveiligings Komitee, 'n forum waarop alle rolspelers maandeliks byeen kom om polisiëring te bespreek. Hy het gesê die volgende vergadering is op 23 April en op dié vergadering sal die kwessie van die bestaande protokol vir plaasbesoeke weer in oënskou geneem word om te verseker dat dit wel geïmplementeer word. Oor die onderhawige insident het hy gesê: "Die Musina Polisie het heeltemal binne ons magte en bevoegdhede opgetree met die operasie. Ons het opgetree binne ons mandaat."
Die voorsitter van die Soutpansberg Distriks Landbou-unie, mnr. Dries Joubert het met verontwaardiging kennis geneem van die voorval en van die amptelike kommentaar van Supt. Van Niekerk. Hy sê die nuwe wapenwet is in Januarie vanjaar op versoek van die landbou-unie uitvoerig met senior polisie-offisiere tydens 'n werksessie op Mopane bespreek. Na afloop van die bespreking het bestuurslede, waaronder mnr. Joubert en mnr. Meiring, teenoor die senior polisie verteenwoordigers opgemerk dat hulle gereed is om ten opsigte van die wapenwet geoudit te word. Die uitnodiging is tot die Area Kommissaris van die Polisie gerig om op kort kennisgewing 'n afspraak te maak en die bestuurslede se plase te besoek.
"Ons het rede om te verwag dat sulke verstandhoudings eerbiedig sal word." Hy sê om na die Hopper-veldtogte nou nog te praat van 'n noodsaaklike "verrassingselement, " is opvallend onsinnig. Mnr. Meiring het in reaksie ook verwys na die uitnodiging aan die polisie wat nooit aanvaar is nie.
"Wat het die sogenaamde operasie verlede week so dringend gemaak, terwyl hulle deurentyd nagelaat het om op ons ope uitnodiging te reageer? Ek beskou die optrede as blatant kwaadwillig, 'n poging om te straf en te intimideer." Mnr. Meiring was in 'n onlangse nasionale televisieprogram uitgesproke oor die onbevoegdheid en oënskynlik onwilligheid van die SAPD om sy beveiligingstaak doeltreffend te hanteer veral ten opsigte van die landelike bevolking. Hy was ook in die verlede uitgesproke in sy verwerping van 'n reeks onwettige arrestasies van blankes en die onvermoë van die polisie om amptelike ooreenkomste te eerbiedig. Die Soutpansberg Distriks Landbou-unie het ook na verskeie voorvalle van onwettige arrestasies openlik verklaar dat enige massa polisieoptrede sonder vooraf afspraak as 'n plaasaanval beskou en gehanteer sal word.
Die jongste gewraakte voorval volg net weke na die finale skikking in die opspraakwekkende Viviers-saak, waarin die Minister van Veiligheid en Sekuriteit duisende rande skadevergoeding moes betaal vir die onregmatige arrestasie van 'n voormalige boer uit die Soutpansberg omgewing, mnr. Piet Viviers. Viviers is op 8 Januarie, 2001 deur 'n groep van 23 polisiemanne in 15 polisievoertuie onder aanhitsing van kapt. Ailwei Mushavhanamadi oorrompel en hardhandig na 'n vangwa gesleep ten aanskoue van 'n SABC televisiespan, wat saam met die polisie daar opgedaag het. Die Direkteur van Openbare Vervolging het bevind dat die polisie se optrede onregmatig was, dat daar geen gronde vir Viviers se arrestasie was nie en dat kapt. Mushavhanamadi in weerwil van 'n mededeling van die Aanklaer, steeds die arrestasie uitgevoer het. Senior Adv. P.H.H. Fick het gesê die voorval het deur die polisie se optrede 'n rassistiese kleur gekry wat die SAPD in 'n slegte lig stel.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
