

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 April 2003
LOUIS TRICHARDT – 'n Rioolprobleem wat al langer as twee jaar aanhou en net deur die munisipaliteit reggemaak kan word, steek die vyftig werkers van 'n saagmeule nou dwars in die krop.
Die werkers van Van der Merwe Saagmeule werk daagliks te midde van 'n onhoudbare reuk en onhigiëniese rioolgemors.
Die eienaar van die saagmeule, mnr. Willie van der Merwe sê dat hulle nou al langer as twee jaar sukkel om die probleem herstel te kry. Die gebied waar die saagmeule is, lê laer as die hoof rioolstasie. Daar het 'n blokkasie ontstaan in die hoof rioolstelsel, 'n feit wat deur privaat loodgieters vasgestel is. Munisipale loodgieters het ook vasgestel dat die probleem aan die munisipaliteit se kant is. Tans veroorsaak die blokkasie dat riool in die werkers se toilette opdam. Die stroom riool was ook so sterk dat dit 'n gegote yster mangatdeksel opgelig het en deurlopend daar uitgestoot het.
Om alles te kroon is die pomp wat die riool van die saagmeule na die hoof rioolstasie moet pomp, ongeveer ses maande terug gesteel. 'n Munisipale beampte het kom kyk na die leë staalkas waar die pomp was en gesê dat hulle aandag daaraan sou gee. Dit was laat verlede jaar en die gras het al die plek waar die pomp was, toegegroei.
Intussen het mnr. Van der Merwe 'n privaat loodgieter gekry om die steekoë oop te maak sodat die riool nie in die werkers se toilette opstoot nie. Hy het 'n sloot laat grawe sodat die riool in 'n oop septiese tenk kan inloop. Mnr. Van der Merwe sê dat hy van sy kant alles moontlik gedoen het om die situasie te verbeter, maar steeds bly dit haglik. Die werkers kla oor die reuk en die gemors wat steeds uitstoot. Omliggende industrieë se mense kla ook oor die reuk. "Ons kan nie so werk nie, dit stink orals. Ons sal siek word," het mev. Sarah Thovhoke Dinsdag (8ste) gesê.
Die afgelope twee jaar het mnr. Van der Merwe die saak male sonder tal by die Gesondheidsafdeling van die Munisipaliteit aangemeld, asook by die ingenieursafdeling.
"Hulle ken my stem al so goed by die ingenieursafdeling, dat die ontvangsdame dadelik sê 'Is dit alweer daardie rioolstorie', as ek skakel," sê Van der Merwe. Die antwoord wat hy Maandag (7de) op sy soveelste klagte gekry het, was dat die projek as 'n geheel opgegradeer sal word en dat daar nie nou geld is om sy probleem op te los nie.
"Ek is op Louis Trichardt gebore en was nog altyd trots op ons dorp, maar hierdie situasie skep regtig 'n swak beeld van ons dorp. Is ons tevrede om tussen rioolafval te bly?" het mnr. Van der Merwe gevra. Wanneer drywers wat hout van ander plekke bring, uit hulle trokke klim, moet hulle in die gemors trap. Mnr. Van der Merwe het ook sy kommer uitgespreek oor die feit dat daar 'n boorgat wat drinkwater voorsien, tussen die stukkende pomp en die rioolstasie lê. Die Makhado Munisipaliteit se Direkteur Tegniese Dienste, mnr. Mapholi, het Woensdag (9de) bevestig dat kwotasies om die hele rioolsisteem op te gradeer reeds op tender uit is.
"Ons is op die punt om 'n kontrakteur aan te stel, " het mnr. Mapholi gesê. Hy het nie 'n tydsaanduiding gegee vir 'n verwagte datum van voltooiing nie.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
