ADVERTISEMENT:

 

Musina tolpad dalk reeds in Junie oop

 

News  Date: 04 April 2003

 

LOUIS TRICHARDT – Die multi-miljoen rand opgradering van die N1 tussen Louis Trichardt en Musina nader voltooiing en die nuwe Baobab Tolplaza sal na verwagting reeds in Junie amptelik in gebruik gestel word. Buitengewone aandag word in die hele projek aan omgewingsbewaringsaspekte bestee.

'n Woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap, mnr. Basie Nothnagel, het vandeesweek bevestig dat die grootste gedeelte van die opgraderingprojek, wat twee van die drie konstruksiekontrakte behels, tesame met die nuwe tolhek, reeds ver gevorderd is en na verwagting in Junie voltooi sal wees. Die derde kontrak vir die laaste twintig kilometer suid van Musina, waar 'n heel nuwe pad gebou word, sal eers later voltooi kan word.

Mnr. Nothnagel het bevestig dat groot sorg geneem word om die minimum versteuring in die besondere omgewing van die padwerke te veroorsaak. Spesiale aandag is ook aan die ontwerp van die nuwe Baobab Tolplaza gegee. Argitekte het in opdrag van die Nasionale Padagentskap die tolplaza ontwerp om op 'n besondere wyse esteties in te pas by die besondere landskap. Die funksionele betonstrukture by die tolhek naby Bokmakierie is so ontwerp dat dit aanpas by die kenmerkende kremetartbome in die omgewing. Die hoëmas beligting, wat noodsaaklik is by alle tolhekke, sal in die geval van die Baobab Tolplaza aangepas word om regstreeks op die padoppervlakte te fokus met minimum ligversteuring van die wildlewe in die onmiddellike omgewing.

Kleiner kremetartbome uit die padreserwe sal by die tolplaza aangeplant word. Van die groter kremetartbome word vanaf hul huidige groeiplekke sywaarts na veiligheid buite die padreserwe verskuif.

Oor die toltariewe by die nuwe tolhek, het mnr. Nothnagel gesê 'n reeks samesprekings met alle belanghebbendes in verskillende ekonomiese sektore begin eersdaags om die vasstelling van die tersake toltariewe te verduidelik. Die tariewe word nou uitgewerk en neem 'n groot verskeidenheid faktore in aanmerking om terselfdertyd die kostes te dek en billik teenoor alle gebruikers te wees. Voorwaardes vir spesiale tariewe en kortings sal op die samesprekings verduidelik word. Mense in die plaaslike gebruiksarea digby die tolhek sal onder meer in aanmerking kan kom vir spesiale verminderde tariewe. Daar sal ook 'n afslagtarief beskikbaar wees vir ander mense wat die tolpad dikwels moet gebruik. In die vasstelling van die toltariewe sal die lengte van die onvoltooide gedeelte van die pad ook in berekening gebring word.

Daar is ook vasgestel dat die probleem met oorlaaide voertuie op die N1 waarskynlik eersdaags aangespreek sal word met behulp van bykomende weegbrug-geriewe. Die bestaande geriewe by Louis Trichardt en Musina sal vermoedelik opgegradeer word, terwyl bykomende weegbruggeriewe digby Polokwane en by die Beitbruggrenspos aangebring sal word.

Intussen het die voortslepende krisis met swaar voertuie op die N1 oor die berg, vandeesweek 'n dramatiese nuwe wending geneem, na 'n gru-ongeluk in die berg. Die Soutpansberg Sakekamer, wat 'n geruime tyd reeds tevergeefs wag op reaksie van die betrokke LUR oor moontlike oplossings vir die krisis met swaar voertuie oor die berg, het 'n beroep op die Provinsiale Premier gedoen om in te gryp. Die bestaande veiligheidsprobleem met swaar voertuie oor die bergpas, is sedert Desember verlede jaar in 'n krisis omskep, toe alle swaar voertuie summier verbied is om van alternatiewe roetes om die berg gebruik te maak. Geeneen van die belangrikste rolspelers is vooraf oor die stap geraadpleeg of daarvan ingelig nie. Reuse kennisgewings, wat oornag langs die N1 verskyn het, het swaar voertuie gedreig met 'n boete van R10 000 en hulle verbied om alternatiewe roetes te gebruik.

Die Sakekamer het indertyd by herhaling die aangeleentheid onder die aandag van die LUR gebring en hom gewaarsku dat hy aanspreeklik sal wees vir enige lewensverlies wat weens die verslegtende veiligheidsituasie op die gedeelte van die pad sou voorkom. In die lig van die LUR se voortgesette stilswye, het die Sakekamer vandeesweek bekend gemaak dat die Provinsiale Premier formeel versoek sal word om in te gryp.

In 'n brief aan die premier word versoek dat 'n bekwaamheid en vaardigheidsoudit op die LUR en sy departementele administrasie uitgevoer moet word om vas te stel of hy hoegenaamd bevoeg en instaat is om sy pligte en verantwoordelikhede te kan uitvoer.

In 'n onderhoud het die voorsitter van die Sakekamer, mev. Jana Smith, bevestig dat alle vertoë wat tot dusver aan die LUR se kantoor gerig is, niks opgelewer het nie. "Dit is duidelik dat die LUR en sy kantoor of heeltemal onbevoeg is of heeltemal ongeërg staan teenoor 'n krisis wat hulleself geskep het en wat die lewens van alle motoriste op die pad oor die berg ernstig in gevaar stel." Meer as 'n maand gelede was daar aanduidings dat die hele aangeleentheid op hoë vlak sou aandag kry. Nadat die R10 000 boetebedrag oornag van die padtekens verdwyn het, was daar sprake dat die provinsiale owerheid deur hul regsadviseurs daarop gewys is dat die kennisgewing nie in orde is nie en dat die kennisgewings verwyder sou word. Dit het nie gebeur nie.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines