ADVERTISEMENT:

 

Boer doodgesteek deur onbekende aanvaller

 

News  Date: 15 March 2002

 

MESSINA – 'n Boer van die Pontdrift-omgewing, die 51-jarige mnr. Rudi Schmidt van die plaas Tuscanon, is vroeg Maandagoggend dood, nadat hy en sy vrou op geweldadige wyse deur 'n onbekende aanvaller in hul plaaswoning oorrompel is.

Mnr. Schmidt en sy vrou, Corlia, is omstreeks 02:20 deur die man in hul slaapkamer oorrompel. Die Schmidt-egpaar het laat die vorige aand vanaf Pietersburg teruggekeer, nadat hulle vir hul jongste dogter gaan kuier het. Die vermoede bestaan dat die aanvaller in daardie stadium reeds in die huis weggekruip het.

Die man, wat 'n klapmuts gedra het, het vir mev. Schmidt aan die skouer gegryp, waarop sy wakker geskrik het en onmiddelik haar man wakker gemaak het. Mnr. Schmidt het opgespring en 'n worsteling het tussen hom en die aanvaller ontstaan. In hierdie stadium het mnr. Schmidt vir sy vrou geskreeu dat sy 'n swaar voorwerp moet gaan soek om die man mee te slaan.

Mev. Schmidt het uit die slaapkamer gehardloop en ondermeer gepoog om per telefoon hulp te ontbied. Die telefoon was egter buite werking.

Die aanvaller het op mev. Schmidt afgestorm en haar met die vuis in die gesig geslaan. Mnr. Schmidt, wat klaarblyklik toe al reeds 'n ernstige nekwond met 'n mes toegedien is, het die aanvaller van sy vrou weggestamp. Hy het daarna vir sy vrou gesê dat hy weet hy is besig om te sterf en dat sy hulp moet gaan kry terwyl hy die man besig hou. Mnr. Schmidt het toe na die kombuis gestrompel op soek na 'n wapen, waar hy weens bloedverlies op die kombuisvloer inmekaargesak het.

Mev. Schmidt het inderhaas die hulp van 'n plaasvoorman ontbied. Met hul terugkeer was daar geen teken van die aanvaller nie. Mnr. Schmidt is toe per bakkie deurgejaag na die hospitaal op Messina. Onderweg is hulle tegemoet gekom deur ambulanspersoneel wat bevestig het dat mnr. Schmidt reeds dood was. Sy liggaam is daarna na 'n huisvriend, mnr. Hennie Erwee, se woning op Messina geneem waar die familie se dokter mnr. Schmidt as dood gesertifiseer het. Mev. Schmidt is na behandeling vir beserings aan die gesig uit die hospitaal ontslaan.

Die aanval en moord op mnr. Schmidt het die eens-rustige Pontdrift boeregemeenskap tot in hul fondamente geruk. Na wat verneem word is dit die eerste keer sedert die bosoorlog in die tagtigerjare dat 'n boer van die omgewing op só 'n wyse vermoor word. Die vermoede bestaan dat drie mans by die aanval betrokke kon wees, maar teen druktyd is nog niemand in verband met die voorval aangekeer nie. Niks is uit die woning gesteel nie, alhoewel die motief roof blyk te wees. Die Schmidt-familie bedryf 'n plaaswinkel wat oor naweke goeie besigheid doen. Twee plaaswerkers het ook na die voorval nie weer opgedaag vir werk nie. Die hoofverdagte in die saak is volgens gerugte 'n sekuriteitsbeampte wat voorheen werksaam was op die plaas.

Mnr. Erwee het Dinsdag gesê dat mnr. Schmidt Donderdag (14de) vanuit die N.G. Kerk op Hendrina begrawe sal word. Hy word oorleef deur sy vrou en vier dogters. Twee van die dogters studeer op Stellenbosch, terwyl een in Potcheftroom studeer. Die vierde dogter is in Graad 11.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines