

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 April 2003
LOUIS TRICHARDT – Die groot hoeveelheid ongelukke op die streek se paaie gedurende Maart moet volgens die plaaslike nood- en reddingsdienste gesien word a rede tot kommer, veral met Paasnaweek om die draai.
Gedurende Maart is 32 ongelukke op die streek se paaie aangemeld. Die N1-noord, wat tans onder konstruksie is, het die hoogste getal (9) ongelukke opgelewer. In teenstelling hiermee is geen ongelukke gedurende Maart op die N1-suid na Polokwane aangemeld nie. In die dorp self was daar sewe ongelukke en ses op die Levubu-pad. Die Elim- en Sinthumule-paaie registreer elk vier ongelukke gedurende dié periode, terwyl twee op die Vivo-pad aangemeld word. In totaal is vyf mense verlede maan in ongelukke dood, terwyl 17 ernstig en 29 lig beseer is. Buiten vir bogenoemde het die plaaslike brandweer ook gedurende dié tydperk drie struktuurbrande, drie voertuigbrande, twaalf spesiale dienste (bv. 'n kat wat vassit in 'n boom), vyf reptiel (bv. slange) verwyderings en twee reddingspogings (bv. 'n persoon wat vasgekeer is) hanteer.
April het Dinsdag op 'n bedrywige noot begin vir reddingsdiens personeel. Eers het 'n vragmotor buite beheer geraak en omgeslaan naby Ingwe Hotel in die bergpas. Een persoon, die mede-bestuurder, is op slag dood, nadat hy klaarblyklik uit die voertuig gespring het en onder die vragmotor beland het toe dit omslaan. Die bestuurder van die voertuig is ernstig beseer. Die ongeluk was die soveelste een waarin vragmotors in die bergpas betrokke was sedert hulle geforseer is om via die bergpas noord en suid te reis.
Mnr. Nico Theunissen van die plaaslike brandweer het na die ongeluk in die berg opgemerk dat hy bekommerd is oor die groot hoeveelheid ongelukke op die streek se paaie. Dit, sê hy, in aanloop tot Paasnaweek wanneer hulle gewoonlik 'n geweldige toename in ongelukke ondervind vanweë verhoogde verkeersvolumes. Mnr. Theunissen het gesê dat meeste ongelukke deur nalatigheid plaasvind en het persone versoek om versigtig te bestuur en gehoor te gaan aan verkeerstekens.

ADVERTISEMENT:
