

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 March 2002
LOUIS TRICHARDT - 'n Proefbesending van 60 ton hout uit die Soutpansberg is onderweg na Nederland.
Die proefbesending van grofgesaagde, harde bloekomhout van die Entabeni plantasie van Safcol is deur twee plaaslike saagmeulens, Joubert Saagmeule en Mondi verwerk en gelaai. Die twee vragte van dertig ton elk is per vragmotor na Durban geneem vawaar dit na Rotterdam verskeep sal word.
Die bestelling vir die hout uit die Soutpansberg volg nadat daar in Europa ernstige weerstand ontstaan het teen die invoer van hout uit ander dele van Afrika, waar natuurlike woude vernietig word om hout vir uitvoer te bekom.
Die bestelling is onderhewig aan 'n streng oudit om te verseker dat die hout uit aangeplante, volhoubare plantasies kom en dat dit verwerk word by saagemeulens wat net van hout uit sulke plantasies gebruik maak.
Volgens mnr. Louis Joubert is die bestelling bewerkstellig deur 'n Nederlandse ingenieur in houtwetenskap wat sy graad aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het. In die soektog na geskikte plaasvervangende leweransiers het hy via sy alma mater kontak gemaak met lede van die bedryf in die Soutpansberg.
Die bepaalde hardehoutsoort sal in Nederland getoets word vir sy bruikbaarheid in die stabilisering van dam- en kanaalwalle. As die proefneming slaag kan dit nuwe uitvoergeleenthede vir die bedryf in die provinsie beteken.

ADVERTISEMENT:
