

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 April 2014
Die Makhado Munisipaliteit is in die proses om aandag te gee aan die haglike toestand van die dorp se slaggat gevulde strate.
“Ruhstraat, Waterbessie-, Hlanganani-, Tshirululuni-, Boababstraat en ander strate in die dorp en ‘ou dorp’ insluitende Pretoriusstraat” val onder ‘n toekomstige projek om nog strate te herstel, het die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi gesê, maar nie die ‘ander strate’ gespesifiseer nie.
Dié strate sal waarskynlik ná die afhandeling van die twee huidige projekte, aandag kry. Tans word strate in Eltivillas gerehabiliteer teen ‘n koste van R13m en behels veral die sakegedeelte en die bushalte en taxi-staanplek. In ‘n tweede projek word strate in die sentrale sakegebied van die dorp teen ‘n koste van R9.8m herstel. “Die strate waaraan gewerk word, is dele van Kortstraat, Vorsterstraat, Krugerstraat (tussen Erasmus- en Rissikstaat), Presidentstraat en Jeppestraat (tussen Kruger- en Groblerstraat),” het Bobodi gesê. Die herstelwerk of rehabilitasie sluit ook die herstel van slaggate, die skoonmaak van stormwaterdreine en die merk van strate in. Die twee projekte word befonds deur die munisipale infrastruktuur befondsing (MIG). Beide projekte se duur is aangegee as ses maande en behoort dan moontlik teen September afgehandel te wees. Die projekbekendstelling is in Maart vanjaar deur die burgemeester van die Makhado Munisipaliteit, rdl. David Mutavhatsindi gehou. Tydens dié funksie in Eltivillas het Mutavhatsindi gesê dat slordige werk nie geduld sal word nie.
Die feit dat sekere strate soos Ruh, Hlanganani en ander nou vir die eerste keer in die konteks van herstel in ‘n mediaverklaring genoem is, kan die hoop laat opvlam dat daar ‘n vooruitsig vir die dorp is om uit hul “slaggat-paradys”-status te beweeg. Ruhstraat se padoppervlakte is nou totaal vervalle, met slaggat op slaggat. Hlanganani se gate is volop en diep en word van tyd tot tyd met gruis toegegooi. Daar is egter bykans nie ’n straat in die dorp wat die slaggat-epidemie vrygespring het nie.“Ons dorp se strate het nog nooit so sleg gelyk soos wat dit nou in April 2014 lyk nie,” het die SBBV voorsitter, me. Inga Gilfillan, gesê
Gilfillan het bygevoeg dat daar rekenaarprogramme beskikbaar is wat uitwerk presies wanneer paaie herseël moet word sodat daar nie eers totale agteruitgang en verbrokkeling van strate is nie. Met die gebruik van tegnologie is dit nie nodig dat ‘n stadsraad besluit watter strate volgende gedoen moet word nie, maar elke straat kry sy beurt vir onderhoud.
“Noudat die strate so agteruitgegaan het, kan ons verstaan as die munisipaliteit nie al die strate op een slag kan oordoen nie, maar waarom nie net die slaggate met teer toemaak nie? Waarom net gruis op die teer gooi en van ‘n teerpad ‘n stofstraat maaak? Slaggate kan suksesvol toegemaak word, soos wat ‘n privaatmaatskappy in die dorp onlangs bewys het,” het Gilfillan gesê.
Volgens die WNNR is paaie wat swak onderhou word, oormatige swaar verkeer en langdurige nat weer ‘n resep vir slaggate.
Die munisipaliteit is gevra om hul siening van pro-aktiewe optrede ten opsigte van pad-onderhoud te gee. “Die munisipaliteit is besig met rehabilitasie in die dorp, omdat ons strate reggemaak (reconstructed) moet word en dit nie net slaggate is wat herstel moet word nie, omdat die volume van die verkeer toegeneem het vandat die dorp gestig is,” het die munisipaliteit gesê.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
