

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 April 2003
LOUIS TRICHARDT – 'n Man wat amok gemaak het in Telkom se kliëntedienskantoor op Donderdagmiddag, 27 Maart, het nie besef dat al sy manewales op video vasgelê is nie. Die slegte nadraai was dat die jongmans wat ingestaan het vir die immer-afwesige polisie, amper as die sondebokke gearresteer is.
Tydens die voorval, het 'n onbekende swart man na bewering kontant geëis by 'n Telkomamptenaar. Nadat aan hom gesê is dat hy slegs 'n tjek kan kry, het hy na bewering sy misnoeë getoon deur 'n spoedpuntmasjien uit te ruk, sy klere uit te trek en in die openbaar te urineer. Hy het skynbaar ook die sekuriteitswag aan sy keel gegryp. Die voorval het vir ongeveer 'n uur en 'n half aangehou en is deur die kameras in die gebou afgeneem. Daar was nie ander kliënte in die gebou nie, omdat die deure gesluit is toe die petalje begin het.
Telkom se Kliëntediensbestuurder, mnr. Ephraim Nenushungwa, het die polisie drie maal ontbied, maar het geen reaksie ontvang nie. Teen sluitingstyd is twee jongmanne van die oorkantste winkel, Prestige Goldsmith, ontbied om van die moeilikheidmaker ontslae te raak. Die broers, Riaan en At Engelbrecht, het tot die redding van die personeel opgedaag. Hulle het nie geweet hoe om uit die gebou te kom met die persoon daar wat hom soos 'n barbaar gedra nie. Nadat die ongewenste persoon op hulle geürineer het, het hulle hom uit die gebou gehelp teen sy sin. Daarna kon die Telkompersoneel die gebou in vrede verlaat.
Riaan Engelbrecht tree ook op as opsigter vir die hele gebou en gronde. Gevolglik het die broers die moeilikheidmaker van die gronde af probeer verwyder. 'n Skare het vinnig versamel en oproerig geraak met uitroepe in simpatie met die man, wat "aangeval" word. Hulle het op Engels herhaaldelik uitgeroep "Dit moet ophou!" Een van die omstanders het die polisie geskakel. Hierdie keer het die polisie binne enkele minute opgedaag. Die polisie het die man hospitaal toe geneem om deur die Distriksgeneesheer ondersoek te word. Die twee wat vroeër die polisie se werk vir hulle kom doen het, deur 'n ongewenste persoon uit die Telkomkantore te verwyder, word toe die sondebokke met die polisie se aankoms. Hulle kant van die storie is nie gevra nie. Hulle het die hele naweek gewonder of hulle gearresteer gaan word.
At Engelbrecht vertel dat een van die polisiebeamptes die vuurwapen wat hy gebruik om sy winkel mee te beveilig sommer net van hom afgeneem het. Nadat hy sy lisensie getoon het, is die wapen weer aan hom terugbesorg. Inspekteur Daniel Ndlovu, kommunikasiebeampte van die plaaslike SAPD het Dinsdag gesê dat hy nie bewus is van die drie oproepe wat deur die Bestuurder van Telkom gemaak is nie. Hy het wel bevestig dat polisie beamptes daardie dag uitgeroep is om 'n man te red wat aangerand is en dat hulle hom na die hospitaal geneem het.
Telkom se Senior Bestuurder: Korporatiewe Kommunikasie, me. Ingrid Krige, het bevestig dat die voorval plaasgevind het. Sy het ook bevestig dat die plaaslike bestuurder die polisie drie maal ontbied het, sonder reaksie. Me. Krige het voorts gesê dat Telkom nog besig is om oorweging te skenk aan die vraag of hulle 'n saak teen die moeilikheidmaker gaan maak.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
