ADVERTISEMENT:

 

Wetgewing wat kinders moet beskerm teen die negatiewe gevolge van rook beteken niks as dit nie toegepas word nie. Gevalle waar sigarette plaaslik aan minderjariges verkoop word, het onlangs onder die soeklig gekom.

Wetgewing oor rook word selde toegepas

 

News  Date: 25 April 2014

 

Strawwe reëls en regulasies, as dit kom by tabakprodukte, is op die oog af nutteloos om die jeug van Makhado (Louis Trichardt) teen die nadelige nagevolge daarvan te beskerm.

In dié geval verwys tabakprodukte na sigarette en hoe dit aan minderjariges verkoop word sonder enige gewetenswroeginge. Talle ondernemings in die dorp maak hulle skuldig aan hierdie kriminele oortreding.

Twee afsonderlike gevalle is onlangs onder die Zoutpansberger se aandag gebring.

In die eerste geval het ‘n kliënt by ‘n motorhawe-kiosk in die dorp gesien hoe ‘n seun van om en by 10 jaar oud ‘n pakkie sigarette koop. Die seun was in skoolklere. Verdere navraag deur die kliënt wat die voorval aanskou het, is ondersoek en die betrokke maatskappy het hul woord gegee dat só iets nooit weer sal gebeur nie. Die maatskappy se ondersoek het aan die lig gebring dat die sigarette vir die seun se pa was wat buite in sy voertuig gewag het. Die betrokke maatskappy het ook belowe dat, in sulke gevalle waar kinders gestuur word om vir hul ouers sigarette te koop, hulle iemand sal stuur om dié aanspraak te verifieer.

In nog ‘n voorval het ‘n geskokte leser gebel om te vertel hoe hy ‘n winkelassistent gekonfronteer het nadat ‘n pakkie sigarette ook aan ‘n skoolkind verkoop is. Die verweer aan die bekommerde kliënt was dat die kind op die oog af oud genoeg gelyk het.

Om ‘n begrip te kry van die omvang van die probleem het die Zoutpansberger met verskeie plaaslike sakepersone gaan gesels.

Die algemene gevolgtrekking was dat plaaslike entrepreneurs deeglik bewus is van die onwettigheid daarvan om sigarette aan minderjariges te verkoop. Volgens die Gewysigde Wet op die Beheer van Tabakprodukte (Wet 63 van 2008) is ‘n minderjarige onder die ouderdom van 18.

Leanda le Cornu van Mount Fuji Shop het verduidelik dat dié strawwe wetgewing moeilik toepasbaar is. Hulle poog egter om dit toe te pas, maar die publiek maak dit vir hulle bitter moeilik om hul wettige plig na te kom. Klante, sê Leanda, het al menigmaal met haar baklei as sy aandring op identifikasie van ‘n minderjarige of agter hulle aanloop om seker te maak dat die sigarette vir ouers gekoop is. “Ag, en dan kry mens daardie ouers wie se kinders met hul goedkeuring rook – die ouers kóóp vir hulle kinders sigarette!” sê Leanda. Sy het toegegee dat dié onwettige praktyk net té moeilik reguleerbaar is. “Maar of jy die wetgewing toepas of nie, rook sal kinders rook as hulle wil. As hulle nie sigarette by die kafee kan koop nie, sal hulle iemand betaal om vir hulle sigarette te gaan koop, anders koop hulle van die vele onwettige sigaretsmokkelaars in die dorp.”

Dit is dan juis daarom dat die Zoutpansberger, gewapen met hierdie inligting,  besluit het om te gaan kers opsteek by die kenners, want hoe dan nou gemaak? Die wetgewing draai nie doekies om nie, en oortreders kan ingevolge die wetgewing (Gewysigde Wet op die Kontrolering van Tabakprodukte) boetes van R50 000 tot ‘n R100 000 in die gesig staar.

Dit het egter vinnig duidelik geword dat die wet ook landswyd swak, indien enigsins, toegepas word. Verskeie instansies, soos die plaaslike polisie en die provinsiale Departement van Gesondheid, is genader en hulle was dit eens dat minderjariges wat onwettig sigarette koop ‘n te klein oortreding is om te kontroleer.

Navraag by die plaaslike landdroskantoor het aan die lig gebring dat die onus op die polisie rus om sulke gevalle te ondersoek. Volgens wat vasgestel kon word, is geen plaaslike handelaar nog ooit krimineel vervolg vir die verkoop van sigarette aan ‘n minderjarige nie. Provinsiale polisiewoordvoerder kol. Ronel Otto het by navraag verduidelik dat dié ondersoeke net ekstra en onnodige druk op ‘n alreeds-oorwerkte polisiemag plaas. “Ons fokus is op sigaretsmokkelaars – dit is ‘n groot probleem wat nie net ‘n gesondheidsrisiko inhou vir verbruikers nie, maar ook die land miljoene rande kos,” het sy gesê.

‘n Direkteur van die Nasionale Raad teen Rook, dr. Yussuf Salojee, se raad aan inwoners was om die las ligter te maak op die polisie en eerder self ‘n klag te gaan lê. “Ek vind dat gemeenskapsoptrede veel meer doeltreffend is,” het hy gesê. Inwoners kan ook hulle plaaslike munisipaliteit se gesondheidsinspekteur of iemand van die gesondheidsdepartement vra om ‘n handelaar te ondersoek wat sigarette aan minderjariges verkoop. “Gewone mense, wat op ‘n beleefde en beskaafde manier hul griewe lug, kan ‘n ommekeer in die situasie bring,” sê Salojee.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines