

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 March 2002
LOUIS TRICHARDT – Die streek het die afgelope week afskeid geneem van Vicky en Jorika Grobler wat besluit het om die Soutpansberge vir Australië te verruil.
Vicky het geen bekendstelling nodig nie. As besigheidsman en eienaar van Bargain Centre Sport was hy welbekend in sportgeledere. In dieselfde asem was hy ook aktief betrokke by sportontwikkeling en talle sportklubs, laer- en hoërskole het by sy borgskappe gebaat. Buite besigheidverband was Vicky ook self 'n aktiewe sportman waar hy veral in gholf uitgeblink het as een van die streek se top spelers. So het sy gesig ook by veskeie geleenthede op sportblaaie gepronk as wenner van 'n aantal van die streek en dorp se mees gesogte gholftoernooie. Vicky is ook 'n entoesiastiese krieketspeler en was 'n stigterslid van die plaaslike krieketklub waarvan hy vir bykans tien jaar die voorsitter was. Hy is erelid van die Louis Trichardt Krieketklub.
Vicky het op eenjarige ouderdom saam met sy ouers na Louis Trichardt verhuis. Hier het hy beide sy laer- en hoërskoolloopbane voltooi, waarna hy by die polisie aangesluit het. Na vier jaar in die polisie en twee jaar op Warmbad, het Vicky in 1993 na Louis Trichardt teruggekeer en Bargain Centre Sport geopen.
Vicky is in 1991 met Jorika (née Otto) getroud en twee kinders, Jean-Pierre en Vionette, is uit die huwelik gebore.
Jorika het ook geen bekendstelling nodig nie. Na hul terugkeer na Louis Trichardt in 1993 het sy vir vyf jaar opgetree as onderwyseres by Laerskool Louis Trichardt. Vanaf 1998 was sy voltyds betrokke by die administrasie van die skool.
Vicky het kort voor sy vertrek gesê dat hy met gemengde gevoelens die land verlaat, maar dat hy en sy familie baie opgewonde daaroor is. Hy sê dat, alhoewel hy jammer is dat hy nie eers gaan kyk het hoe dit in Australië lyk nie, hy gevoel het dit is tyd vir 'n verandering in 'n veranderende Suid-Afrika.
Die Grobler-familie gaan hulle in Queensland vestig waar Vicky hom gaan toespits op die eiendomsbedryf. Jorika gaan op haar beurt haar onderwysloopbaan voortsit. Vicky en Jorika het egter gesê dat hulle eers 'n bietjie vakansie gaan hou. Hulle het ook hul dank uitgespreek teenoor almal, hetsy in besigheid of vriendskap, wat hulle deur die jare ondersteun het.

ADVERTISEMENT:
