

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 April 2014
‘n Vrou en haar twee-maande-oue babatjie het Dinsdag ‘n gewapende aanval oorleef.
Michelle de Jager en haar babadogtertjie is in die parkeerterrein van Laerskool Louis Trichardt in Cilliersstraat deur twee rowers aangeval. Die voorval het die agtermiddag gebeur, terwyl sy besig was om vir baba Chené ‘n bottel te gee in die gesin se minibus. Haar seun, Christiaan, was besig om rugby te oefen saam met sy span.
Terwyl Michelle besig was, het haar oudste dogter, Celine, naby die bussie saam met ‘n maatjie gespeel. Celine en haar maatjie was op pad gewees, en die laaste wat Michelle vir hulle gevra het was om die bussie se deur toe te maak. “Celine was al weg en haar maatjie was by my, op pad om die deur toe te maak, toe sy vir my sê: ‘Tannie daar is iemand by die deur’,” het Michelle vertel.
Sy het opgekyk, maar die rower het reeds ‘n mes teen haar keel gehou. “Ek het net vir Chené laat sak – ek was so bang dat hy haar dalk sou steek met die mes,” het Michelle gesê.
Die rower het nog ‘n makker gehad wat agter hom gestaan het.
Wonderbaarlik het Michelle koelkop gebly en om hulp geskreeu. Voor hulp egter kon opdaag, het die rower oorgeleun en haar twee selfone in die kompartement onder die radio gegryp en laat spaander. “Ek is nie seker nie, maar ek dink die ander ou moes hom gewaarsku het dat daar mense kom.”
Ander ouers op die skool se rugbyveld het Michelle se hulpkrete gehoor en haar te hulp gesnel. Die twee rowers het egter weggehardloop en verdwyn in die digte boste oorkant die Grasdak Gastehuis. Michelle en haar kinders was ongedeerd.
Die Makhado polisie was vinnig om te reageer en ondersoek tans ‘n saak van roof met die opset om te beseer.
Intussen het die skool ook, na afloop van die aanval op Michelle, voorsiening gemaak dat ouers tydens oefentye hul voertuie voortaan binne die skoolterrein kan parkeer, waar dit veiliger sal wees.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
