

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 March 2002
LOUIS TRICHARDT – Plaaslike sakeman, Francois Pretorius, is eenparig herkies tot voorsitter van die Soutpansberg Sakekamer, op die kamer se jaarvergadering wat op 6 Maart plaasgevind het.
Die dinamiese bestuurspan van die kamer is ook eenparig herkies, terwyl drie nuwe bykomende lede verkies is. Hulle is mnre. Paul Herman, Fritz Ahrens en Ian Purdon.
Die bemarkingsvideo vir die Soutpansberg, wat in samewerking met Georganiseerde Landbou, Toerisme en die plaaslike Munisipale Raad vervaardig is, is by die geleentheid vertoon.
Altesame 37 ure se opnames van die hele Soutpansberg area is vir die video ingekort tot 36 minute. Mnr. Pretorius het die video beskryf as 'n kragtige bemarkingsinstrument wat nie net toerisme sal bevorder nie, maar ook die plaaslike sakebedrywighede tot voordeel sal strek . Die videos se eenheidskoste is R100.
Mnr. Pretorius het al die borge van verskillende Sakekamerprojekte bedank vir hul ondersteuning.
In 'n oorsig oor die bedrywighede van die afgelope jaar, het hy gesê die Sakekamer het homself bewys as 'n leier in die aanbieding van die Entrepreneursweek.
"Louis Trichardt het met die projek 'n week vol positiewe meelewing beleef wat veral onder die jeug nuwe perspektiewe en 'n positiewe lewensuitkyk aangewakker het," het mnr. Pretorius gesê.
Die Sakekamer se jaarlikse Gholfdag is ook uitgelig as een van die gewildste op die jaarlikse Louis Trichardt kalender.
Die byeenkoms is ook ingelig oor die Sakekamer se optrede in verband met die omstrede naamsveranderingspoging deur die plaaslike munisipale raad.
Mnr. Pretorius het beklemtoon dat die Sakekamer 'n Christelike a-politiese organisasie is. Dit bestaan uit 142 lede.

ADVERTISEMENT:
