ADVERTISEMENT:

 

Die beseerde hond wat Dawid en Jean Jordaan opgetel het in die middel van die Kutama/Sinthumule-pad en probeer red het. Foto verskaf.

“Ek kon dit nie oor my hart kry nie ...”

 

News  Date: 01 May 2014

 

‘n Egpaar van Makhado (Louis Trichardt) het ‘n beroep gedoen op motoriste om tog maar op die uitkyk te wees vir rondloperdiere op plaaslike paaie.

Dawid en Jean Jordaan, wat op LMB Makhado woon en werk, het verlede Dinsdag tot die redding gekom van ‘n rondloper hond wat onder die wiele van ‘n voertuig beland het op die Kutama/Sinthumule-pad.

“Ek kon dit net nie oor my hart kry om die arme dier so te sien ly nie,” het Jean gesê. Sy en Dawid het gestop en die bloeiende hond dadelik na die Blouberg Dierekliniek gevat vir mediese aandag. Ongelukkig was daar niks wat vir die hond gedoen kon word nie en die dier moes uitgesit word.

Wat die egpaar die meeste ontstel het, was die feit dat die motoris wat oor die hond gery het wel gestop het en na die hond gekyk het, maar niks gedoen het om tot sy redding te kom nie. Werkers wat die gras langs die pad gesny het, het aan Jean en Dawid vertel dat die man gestop het, klaarblyklik om te bepaal of daar enige skade aan sy voertuig was, voordat hy weer gery het. Die skuldige motoris het nie eers die tyd geneem om die erg-beseerde hond uit die pad te probeer haal nie.

Die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) is genader vir kommentaar en was vol lof vir Dawid en Jean se optrede. “Julle moet asseblief baie dankie sê vir hulle,” het DBV inspekteur Lawrence Khodobo gesê. “Dit gebeur nie aldag dat mense honde optel en veearts toe vat nie,” het hy gesê.

Khodobo het verduidelik dat in sulke gevalle, soos wat die Jordaan-egpaar teëgekom het, hulle maar self die diere optel. Die diere wat gered kan word versorg die DBV, maar dit gebeur dikwels dat honde en katte wat raakgery word eerder uitgesit moet word. Hy het die publiek aangeraai om, in sulke gevalle, net te stop en seker te maak die dier nie in die pad bly lê nie. ‘n Ander motoris wat verbykom kan dalk probeer uitswaai en ‘n ongeluk veroorsaak. Khodobo het ook gesê dat inwoners altyd welkom is om hom te skakel om te help waar die eienaar van ‘n beseerde dier nie opgespoor kan word nie.

Khodobo kan gedurende kantoorure, of noodgevalle, geskakel word by tel. 082 965 5151.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines