ADVERTISEMENT:

 

Voorafbetaalde meters nie werklik goedkoper

 

News  Date: 15 March 2002

 

LOUIS TRICHARDT – Daar bestaan 'n behoefte by elektrisiteitsverbruikers in die dorp om vas te stel of voorafbetaalde elektrisiteitsmeters meer voordelig is as konvensionele elektrisiteitsmeters. Daar is ook vrae by verbruikers in die dorp oor wat die tariewe van areas buite die dorp behels.

Mnr. Daniël Masengana (adjunk-stadstesourier) noem dat die grootste voordeel van voorafbetaalde elektrisiteitsmeters daarin lê dat jou verbruik, uitgawe en begroting beheer kan word. Jy kan duidelik sien hoeveel eenhede jy nog oor het en jy kry nie 'n onaangename verrassing wanneer jou rekening kom en daar niks meer aan te doen is nie.

Mnr. Dopper Kruger (stadstesourier) beveel aan dat wanneer 'n nuwe huis gebou word, 'n voorafbetaalde elektrisiteitsmeter van die begin af geïnstalleer moet word. Die verbruiker wat wil oorskakel van 'n konvensionele elektrisiteitsmeter na 'n voorafbetaalde elektrisiteitsmeter, moet in ag neem dat die installasiekoste sowat R2 800 beloop. Verder sê mnr. Kruger dat konvensionele meters die munisipaliteit meer kos, omdat meterlesers betaal moet word en hul effektiwiteit belemmer kan word deur faktore soos reën of 'n kwaai hond.

Wat deposito's betref, sê 'n woordvoerder dat jy R850 deposito betaal as daar reeds 'n konvensionele elektrisiteitsmeter in jou huis is en R600 vir 'n woonstel. Vir 'n woning waar daar reeds 'n voorafbetaalde elektrisiteitsmeter is, is die deposito R400.

In die dorp betaal die verbruiker met 'n konvensionele elektrisiteitsmeter 33,09c per eenheid, BTW uitgesluit. Saam met BTW beloop dit 37,72c. Die basiese heffing is R31, 85 sonder BTW. Mnr. Kruger sê dat die BTW apart gehou word omdat sommige mense belastingkorting daarop bereken.

Verbruikers in die dorp wat 'n voorafbetaalde meter laat installeer, betaal die volle R2 800 wat die installasie en bou van die netwerk insluit. Die tarief per eenheid elektrisiteit is 35,42c, BTW ingesluit met 'n R31,85 basiese heffing.

Gestel persoon A het 'n konvensionele meter en sy elektrisiteitsverbruik is 1 000 eenhede. Teen 33,09c beloop die verbruik R330,90, plus die basiese heffing van R31,85 en BTW van R50,79. Die groottotaal is R413,54.

Persoon B trek in 'n huis waar reeds 'n voorafbetaalde elektrisiteitsmeter is en hy het 'n elekrisiteitsverbruik van 1000 eenhede. Teen 35,42c beloop die verbruik R354,20, waar BTW reeds ingesluit is. Saam met die heffing van R31,85 is die groottotaal R386,05.

Persoon B bespaar R27,49. Indien hy egter sy elektrisiteitsverbruik kan besnoei tot 565 eenhede (R200) per maand, sal sy besparing R213 kan bedra. Volgens 'n woordvoerder is daar bevind dat mense wat voorheen R400 se elektrisiteit gebruik het met 'n konvensionele meter, nou R200 gebruik met 'n voorafbetaalde elektrisiteitsmeter, omdat die hele huisgesin duidelik kan sien hoeveel elektrisiteit daar nog oor is.

Gestel persoon C verander sy meter na 'n voorafbetaalde meter en hy kan ook 'n R213 besparing toon soos persoon B. As hy die maandelikse besparing van R213 gebruik om sy aanvanklike installasiekoste van R2 800 te verhaal, sal hy dan na 13 maande begin om meer rand in sy sak te hê.

"Nog 'n voordeel is dat die persoon met die voorafbetaalde elektrisiteitsmeter in Junie baie krag kan aankoop as hy weet dat Julie gewoonlik prysstygings in elektrisiteit meebring," sê mnr. Kruger.

Wat die tariewe van die buite areas betref, het die verbruikers twee opsies ten opsigte van voorafbetaalde elektrisiteitsmeters. In beide opsies is BTW ingesluit.

Opsie een behels geen basiese elektrisiteitsheffing nie, maar 'n hoër tarief van 60,92c per eenheid. Opsie twee behels weer 'n basiese elektrisiteitsheffing van R31,85 en 'n tarief van 41,02c per eenheid. In beide gevalle word die installasiekoste van R2 800 met R2300 gesubsidieer deur die Nasionale Elektrisiteitsraad (NER), sodat die verbruiker slegs R500 betaal. Dit geld slegs in die buite areas, soos Kutama, Tshikota en Sinthumule.

Mnr. Kruger erken dat daar kruissubsidiëring tussen die verkillende tariewe is. Hy verseker verder dat diefstal van krag geensins 'n probleem is nie.

"Ons het eers navorsing by Soweto en Kwamashu gedoen. Ons meter het nie 'n skakelaar nie en as daar aan die meter gepeuter word, skop die krag by die paal uit wat dan onmiddellik die ander verbruikers ook affekteer. Ons het nog geen probleme ondervind met mense wat krag steel nie. Inteendeel, mense pas hulle kragaankope by hulle behoeftes aan. So het ons byvoorbeeld op Kersdag verlede jaar R4 000 se krag verkoop," sê mnr Dopper Kruger.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines