

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 May 2014
Verskeie mense het hom opgemerk waar hy voor die Checkers-winkelkompleks in Makhado (Louis Trichardt) sit en teken.
Rustig op sy stoeltjie, vlieg sy kunstenaarshand behendig oor die tekenbord en vang sy onderwerp met ‘n amper fotografiese oog op papier vas.
‘n Nadere kennismaking bring aan die lig dat mnr. John Calitz (67) van die Kaap af kom en al oor die wêreld gereis het met sy kunstoebehore in die hand. Hy skilder al 52 jaar en was al in Europa, Afrika en Sjina. “Ek het al vir Madiba, F.W. de Klerk, Thabo Mbeki, Lady Di en prins Charles op doek vasgevang. Ek het identikit sketse vir die polisie gedoen en bied ook kunsklasse aan,” sê John.
Hier in die dorp vind hy dat sketse van kinders en oumense baie gewild is. Party mense hou daarvan om te sit en geteken te word, maar ander verkies om vir hom foto’s te bring wat hy vir hulle in potlood of kleur moet teken. Daar is ook diegene wat ou, kosbare foto’s bring om oorgeskilder te word. ‘n Potloodskets van iemand wat sit om geteken te word, neem hom sowat 20 minute en een in kleur ‘n bietjie langer.
“Ek is ‘n realistiese kunstenaar en is nie lief daarvoor om abstrak te werk nie. Ek doen egter nie net portretstudies nie; ek kan enige iets teken en hou ook daarvan om die natuur te skilder. Ek doen ook graag die groot vyf,” sê John en voeg by dat hy mal is oor die natuur en die mooi omgewing van die Soutpansberg . Hy doen ook houtsneewerk, découpage en collages.
“Ek sal seker nog so ‘n week of twee hier bly,” het John op 25 April gesê. Hy gaan by vriende, Peet en Sandra van Zyl, tuis. Die omgewing het egter maar ‘n manier om op iemand te groei. “As die Here wil en Hy spaar my, sal ek miskien daarna kyk om vir die straatkinders hier kunsklasse aan te bied. Daarvoor sal ek hulp benodig. Kinders is kreatief; as hy ‘n potlood of kwas in die hande vat, dan gebeur daar iets,” het John Dinsdag gesê.
Mnr. Mashudu Tshuma van Kutama is een van die wat foto’s gebring het om geskilder te word, een van sy seun en een van sy dogter. “Ek is baie gelukkig daarmee. Hy is besig om kos op die tafel te bring. Ek kan hom ondersteun,” het Mashudu gesê. Me. Anél Heinlein het ‘n foto van haar en haar honde laat teken. “Dit het baie mooi gekom,” het Anél gesê.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
