ADVERTISEMENT:

 

Van Heerden-gesin groet Soutpansberg

 

News  Date: 15 March 2002

 

LOUIS TRICHARDT - Na meer as vyftien jaar van diep spore trap in Louis Trichardt, verlaat die Van Heerden-gesin nie net die dorp nie, maar ook die land om hulle in Australië te gaan vestig.

Barend van Heerden, 'n prokureur, is bekend as leier en pionier op verskeie terreine. Hy was vir 12 jaar voorsitter van die Soutpansberg Atletiekklub, waarvan hy ook 'n stigterslid was. Karen was ook vir etlike jare sekretaresse van die klub. Die Van Heerdens stem saam dat die tien Kremetart Fietstoere wat hulle help organiseer het, absolute hoogtepunte was.

By die Soutpansberg Sakekamer het Barend eweneens sy volle gewig ingegooi. Vanaf 1987 tot 2000 het hy op die bestuur gedien, terwyl hy die laaste vier jaar as voorsitter opgetree het.

"Die boikotte van die vroeë negentigs, wat gemik was teen die dorp se besighede en die onderhandelingsrol wat die Sakekamer toe gespeel het, kan ek nog goed onthou. Daardie belangrike rol om die sakegemeenskap se belange op die hart te dra, geld nog steeds," sê Barend.

"In 1993 het ons 'n Inwonersvereniging gestig," vertel Barend. "Die doel was om 'n tipe bemiddellaar tussen die inwoners en die Stadsraad te wees. Die idee was nie om 'n opposisie te wees nie." Die Inwonersalliansie, wat toe daaruit voortgevloei het, was suksesvol met ses raadslede op die Oorgangsraad. Vanaf 1995 tot 2000 het Barend op die Stadsraad gedien.

"Iets wat my nog altyd gepla het en altyd sal pla, is wanneer 'n Stadsraad nie betrokke is by plaaslike bestuur nie, maar politiek bedryf. Vir die huidige stadsraad wil ek sê: 'Kom weg van politiek en lewer dienste – dan sal die man op straat se situasie verbeter."

Baie mense sal Barend onthou vir sy prominente rol (voorsitter van 1997 tot 2001) in die organisering van die Louis Trichardt Skou.

"Louis Trichardt se mense kan met reg trots voel op hulle jaarlikse Skou, wat beskou word as een van die beste in die provinsie. Verlede jaar se skou het die hoogste bywoningsyfer ooit gehad en mense het November verlede jaar al begin bespreek vir hierdie jaar se skou. Die omvang van die skou het so uitgebrei dat 'n aanstelling gemaak is vir die organisering daarvan."

Barend het ook op die volgende verenigings of rade gedien: Kerkraad van die N.G. Kerk Soutpansberg (1987 –2002; ook leierouderling), Bestuursraad van Schoemansdal Veldskool (1994-1998), Beheerliggaam van Laerskool Louis Trichardt (1994-2002, voorsitter laaste drie jaar), Prokureursvereniging (voorsitter 1996 –1999).

Karen het in eie reg diep spore in die harte van inwoners getrap deurdat sy as fisioterapeut vir amper 16 jaar reggestaan het vir elke pyn en skeet. Karin was ook baie aktief in die gemeente, veral as wykskakel vir die afgelope ses jaar.

Body Shop, die gimnasium, was ook Karen se baba wat sy vanaf 1986 grootgemaak totdat dit met die verkoop daarvan so uitgebrei het dat daar elf instrukteurs was wat 24 klasse in spinning en ses aerobiese klasse per week aangebied het.

Karen begin op 1 Mei by 'n fisioterapie praktyk in Brisbon, Queensland, te werk.

"My hart trek egter met 'n punt om by 'n Australiese sportrehabilitasie kliniek werksaam te wees," sê sy.

Barend gaan op sy beurt die regsberoep verruil vir die besigheidswêreld. Hy sê dat hy wel die een en 'n half jaar studie sal voltooi om as 'n advokaart in Australië te kwalifiseer, maar dat hy moontlik nie weer sal praktiseer nie. Hy voeg by: "Ek is net bly dat ek nog uit Louis Trichardt kan trek en nie uit Makhado nie."

Die Van Heerdens bedank die gemeenskap wat hulle altyd so goed ontvang en hul projekte entoesiasties ondersteun het.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines