ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

Laaste geskarrel om besware in te dien

 

News  Date: 02 May 2014

 

Sommige inwoners het hierdie week nog geskarrel om hul besware teen die Makhado Munisipaliteit se nuwe waardasierol vir eiendomme in te dien voor die sluitingsdatum op Woensdag, 30 April.

Die munisipale bestuurder, mnr. Sakkie Mutshinyali, het die sluitingsdatum vir besware amptelik uitgestel van 31 Maart na 30 April.

Een van die amptenare wat die kantore vir die besware teen die waardasierol beman het, het gesê dat daar baie mense gekom het met besware en veral op die nippertjie. Die totale aantal besware sal eers later gegee kan word.

Verlede week het baie mense nog om hulp kom aanklop by die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV), waar die bestuurder, mnr. Phillip Olivier, hulle gehelp het om beswaarvorms in te vul. “Ons waarsku al lank dat mense betyds aandag aan die beswaarvorms moet gee,” het Olivier gesê.

Een prokureur het die dag voor die sluitingsdatum tien nuwe versoeke vir onafhanklike waardasies ingekry. “Ek het reeds een tafel vol lêers met waardasies en nou ‘n tafel vol van die nuwes wat vandag ingekom het,” het mnr. Kerneels Kern van Kern en Dekker Prokureurs gesê. Hy sê hy het dit verwag. “Ek weet mos mense wag tot op die laaste,” het Kern geskerts. Hy was ernstiger met die antwoord op die vraag of hy dink dat dit sal help om so ‘n waardasie aan die beswaar te heg. “Ek is ‘n realis en wil nie ‘n opinie waag nie, want daar is soveel faktore wat dit kan beïnvloed,” het Kern gesê.

Dr. Suwil Rudolph van Rudolph en Pieterse Prokureurs het gesê dat hy versoeke vir eiendomswaardasies wat hierdie week eers ingekom het, van die hand gewys het.  Rudolph het 10 professionele waardasies gehad om vir eienaars te doen. Rudolph is die dorp se enigste geregistreerde waardeerder. Hy het gesê dat eienaars dikwels die fout maak om te dink dat hulle hul beswaar kan grond op die waardasies van die bure se eiendomme, maar dat dit nie ‘n motivering is nie. Die bedrae waarteen soortgelyke huise in die omgewing onlangs verkoop is, is wel van belang.

“Enige een kon op sy eie beswaar gemaak het. Professionele waardasies word aangeheg om ‘n saak te versterk. As die eienaar van ‘n eenvoudige huis aan die onderkant van Rissikstraat, byvoorbeeld beswaar maak teen ‘n waardasie van R2 miljoen, sal dit nie moeilik wees om te weet dis verkeerd nie, al is daar niks by die beswaar aangeheg nie. Dit raak moeiliker as die gaping tussen die bedrag op die waardasierol en die werklike waarde van die eiendom nouer word,” het Rudolph gesê.

Vandat die munisipale waardasierol verskyn het, word die wenkbroue al skerp gelig en is dat as 'n “groot gemors” beskryf.

Wat het so ‘n onafhanklike waardasie die belastingbetaler uit die sak gejaag? Rudolph sê dat die fooi wat ‘n professionele waardeerder vra  0.77% van die eiendom se waarde is en dit sou uitwerk op R7 700 op ‘n eiendom van R1 miljoen. “Ek het egter ‘n verlaagde, vaste fooi van tussen  R1 500 en R2 000 gevra. Ek is bewus daarvan dat daar ouens is wat tot vir R200 waardasies gaan doen het. ‘n Mens moet net in gedagte hou dat iemand soos ‘n kandidaat-waardeerder of ‘n eiendomsagent nie so ‘n saak in die hof kan disputeer nie,” het Rudolph gesê.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines