ADVERTISEMENT:

 

Werkers van Ram 77, afgeneem waar hulle besig is om 'n heining op te rig rondom die nuwe stortingsterrein.

Verligting of frustrasie?

 

News  Date: 02 May 2014

 

Afvalbestuur hier in Makhado (Louis Trichardt) staar vele uitdagings in die gesig en die nuwe stortingsterrein, wat tans onder konstruksie is, mag dalk nie die uitkoms wees waarop talle inwoners gereken het nie.

In ‘n tyd waar inwoners saam met die res van die land die 20ste bestaansjaar gevier het van die Grondwet, is daar van die toepassing van vullisbestuurswette en ander soortgelyke maatreëls weinig hier te bespeur. In terme van hierdie wette het alle inwoners die reg tot ‘n omgewing wat nie skadelik sal wees vir hulle gesondheid of welstand nie. 

Só is die aankondiging van die dorp se nuwe munisipale stortingsterrein met gemengde gevoelens ontvang. Vir party was dit goeie nuus, terwyl dit vir ander (veral die wat in die omgewing van die nuwe terrein woon en boer) meer vrae as antwoorde gelos het. 

Die Makhado Munisipaliteit het in Oktober verlede jaar aangekondig dat ‘n terrein oorhandig is aan ‘n kontrakteur vir ontwikkeling. Vir die wat nie weet nie, die nuwe terrein is ongeveer 6 km buite die dorp, verby die munisipale vliegveld – tussen die Soutpansberg Skietklub en Wearne Crushers – op ‘n gedeelte van die plaas Rietvly

Kort nadat bouwerk hier begin het, is die Zoutpansberger genader deur inwoners in die onmiddellike omgewing van die terrein, wat bekommerd is dat die vullisterrein op ‘n vleiland staan. Afvloeiwater, as gevolg van swaar reën sedert Januarie vanjaar, het dié inwoners ook laat wonder of die terrein, as dit eers in werking is, nie ook waterbronne gaan besoedel nie.

Hierdie vrae het die koerant genoop om die munisipaliteit te nader vir kommentaar. Spesifieke vrae is gerig oor die terrein se grootte, nuwe permitvoorwaardes en of daar ‘n omgewingsimpakstudie gedoen is. Die navraag is gedoen in Februarie. In Maart moes die koerant dié navraag direk by die munisipale bestuurder, mnr. Sakkie Mutshinyali, opvolg. Hy het op sy beurt die hoof van die afvalbestuur-afdeling, mnr. Phineas Nndwakhulu, opdrag gegee om die koerant se vrae te beantwoord.

Volgens Nndwakhulu het die munisipaliteit gesukkel om fondse bymekaar te kry vir die ontwikkeling van ‘n nuwe terrein. Die munisipaliteit het reeds in 2005, in terme van ‘n geïntegreerde afvalbestuursplan, besluit op die ontwikkeling van die nuwe terrein. Nadat daar twee keer dadels gekom het van die Vhembe Distriksmunisipaliteit se belofte van projekgeld, asook die Departement van Sosiale Ontwikkeling, het die Makhado Munisipaliteit self  R5m bymekaargeskraap vir die projek.

Die Zoutpansberger kon wel daarin slaag om op die Internet ‘n afskrif van die nuwe terrein se permitvoorwaardes in die hande te kry. ‘n Afskrif van die impakstudie wat daar gedoen is, moes gekoop word van die munisipaliteit. Die munisipaliteit se regsdepartement het daarop aangedring dat dié dokumente, in terme van die inligtingswet, nie gratis beskikbaar gemaak kan word nie.

Sommer met die eerste deurlees het dit duidelik geword dat daar talle tekortkominge in die studie is. Nie net was die verslag vol spel- en berekeningsfoute nie, maar dit was ook verouderd. Populasiegroeiskattings is gedoen op grond van statistieke van 2007 en bereken op 4.1% per jaar vir die volgende 20 jaar.

In Maart 2010 het die Makhado Munisipaliteit vir Bazisa Technical Waste Solutions Pty Ltd, ‘n Gautengse maatskappy, aangestel om die impakstudie te doen. Op sterkte van dié maatskappy se studie het die Departement van Waterwese op 26 Januarie 2011 ingestem tot die voorgestelde nuwe stortingsterrein. Op 7 Augustus 2012 is ‘n permit uitgereik wat die prosedure uitlê vir die toemaak van die huidige terrein op die Vondeling-pad.  Hierdié terrein beslaan 10ha en is al amper 30 jaar oud.

Die nuwe stortingsterrein, volgens die impakstudie, sal 300ha beslaan en toegerus word met ‘n weegbrug, ‘n loog- en verdampingsdam,  ‘n behoorlike toegangspad en sekuriteitsfasiliteite. Daar sal ook ‘n stelsel ingestel word om te verseker dat behoorlike beheer oor die terrein toegepas word. Vir eers sal net 20ha ontwikkel word, en die oorblywende 280ha sal ontwikkel word soos dit benodig word.

‘n Kenner en oud-inwoner van die dorp, prof. Ben van der Waal, wat op versoek van die koerant na die impakstudie gekyk het, het sy teleurstelling uitgespreek dat daar nie genoeg gedoen is om kommentaar en insae van die publiek te kry nie. Daar was tyd vir die publiek om besware in te dien vanaf 21 Desember 2009 tot 25 Januarie 2010 - ‘n tyd wanneer meeste mense weg was met vakansie.

Bazisa spreek egter hul tevredenheid uit met die gemeenskap se opkoms. Hulle bevinding was dat die gemeenskap in die onmiddellike omgewing van die terrein “bly was om ingelig te word van die lopende projek, asook om betrokke te raak by die verskillende fases van die projek.” Van der Waal het egter hier uitgewys dat die verslag self melding maak van swak bywoning van publieke vergaderings. “Ek sou reken dat, al is die proses gevolg, sulke swak bywoning die konsultante moes gewaarsku het dat hul dit moet oordoen om sodoende mense meer kans te gee om hul besware te opper,” het hy gesê.

‘n Ander bekommernis wat Van der Waal aangespreek het, was of die nuwe terrein op ‘n vleiland gebou word. Na sy mening, volgens die inligting in die verslag, is die gebied nie ‘n vleiland nie. Dit, het hy gesê, skakel nie die risiko van waterbesoedeling uit nie. “Die nuwe terrein val in die Dorpsrivier se opvangsgebied - ‘n rivier wat reeds deur riool besoedel is.”

Verdere besoedeling, as die nuwe terrein nie goed bestuur word nie, kan lei tot die moontlike besoedeling van die Sandrivier, wat ook aansluit by die Limpoporivier. “As ‘n [vorige] buurman van ‘n onwettige stortingsterrein [Vondeling], vir 27 jaar moet ek beklemtoon dat, indien die terrein korrek volgens voorskrifte bestuur word, dit nie ‘n groot oorlas sal wees nie ... Aanhoudende druk op die munisipaliteit is nou nodig om hul te help om die goeie planne uit te voer.”

Intussen het die munisipaliteit bevestig dat hulle vir mnr. Romeo Raphulu van Ram 77 Pty Ltd aangestel het om die nuwe terrein te ontwikkel volgens die voorskrifte van die impakstudie en permit van die Departement Omgewingsake. As die weer dit toelaat, kan die nuwe terrein teen die einde van die jaar oopgestel word vir die publiek se gebruik.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines