

ADVERTISEMENT:

News Date: 08 March 2002
LOUIS TRICHARDT - Die Ben Lavin Natuurreservaat, een van die Soutpansberg se min privaat natuurreservate, sal eersdaags aan die Manavhela-gemeenskap verkoop word. Dit volg na 'n grondeis op dié plaas toegestaan is.
Die reservaat van bykans 2 500ha is net suid van Louis Trichardt geleë en beskik oor sowat 14 grootwildspesies, 50 soogdierspesies, konferensiefasiliteite, 'n restaurant en kroeg en verskeie kampe. Dit sluit in een vir karavane en tente, asook 'n luukse tentkamp en boskamp. Die grond is in 1975 deur die eggenoot van wyle mnr. Ben Lavin, mev. Molly Lavin, aan die Wildlife and Environment Society of South Africa (WESSA) geskenk. Sy het ook met haar afsterwe in 1993 in haar testament versoek dat die plaas nie verkoop mag word nie en dat dit deurlopend as 'n natuurreservaat bedryf moet word.
Volgens mnr. Gerhard Koch, lid van die Ben Lavin Trust en tans bestuurder van die reservaat, is die eis in Augustus verlede jaar aan die Manavhela-gemeenskap toegestaan. Die Manavhela-gemeenskap het aangevoer dat hulle in 1928, kort nadat mnr. Ben Lavin die plaas gekoop het, vanweë gedwonge verwydering die plaas moes verlaat.
Mnr. Koch sê dat WESSA van meet af aan dit duidelik gestel het dat hulle nie die eis sou teenstaan nie, sou die eis toegestaan word. Hy het verduidelik dat die reservaat die afgelope paar jaar 'n finansiële las geword het vir WESSA. Een van die vereistes wat WESSA in 1975 gestel het ten opsigte van die bestuur van die reservaat, was dat die reservaat nooit vir hulle 'n las moes word nie. Daarbenewens, sê mnr. Koch, het WESSA ook te kenne gegee dat hulle nie bekend wil staan as 'n organisasie wat in die pad van politieke vooruitgang staan nie.
Mnr. Koch sê dat die finale tekening van die koopkontrak heel moontlik op 13 April vanjaar sal plaasvind. Daarna sal die reservaat steeds as 'n lopende bedryf bestuur word deur die Ben Lavin Trust en WESSA in vennootskap met die Manavhela-gemeenskap. Die Manavhela-gemeenskap, sê mnr. Koch, sal beheer van die reservaat kan oorneem wanneer al die betrokke partye oor die aangeleentheid saamstem.
Die verkoop van die reservaat het in sommige geledere vrae laat ontstaan oor wie by die transaksie baat. Die reservaat word gesien as 'n bate wat aan WESSA gegee is vir die streek en sy mense.
In antwoord hierop het mnr. Koch gesê dat die geld uit die verkoop van die reservaat deur WESSA in 'n rekening gestort sal word wat gekoppel is aan die Ben Lavin naam. Die geld, sê hy, sal steeds aangewend word vir natuurbewaringsprojekte in ooreenstemming met Molly Lavin se testament. In hierdie stadium, sê hy, is dit nie seker of die WESSA al 'n projek geïdentifiseer het nie en of die geld in die streek aangewend gaan word nie.

ADVERTISEMENT:
