ADVERTISEMENT:

 

Lede van Tafelronde Zoutpansberg 66, afgeneem saam met die 11-jarige Corlanie de Vries (links). Hulle het Maandag die geld wat hulle ingesamel het met hul DJ Ossewa-optrede aan haar oorhandig as deel van die Corlanie de Vries Projek. Corlanie benodig ‘n baie duur maar lewensnoodsaaklike hartklep-operasie. Persone wat hul weg oopsien om ook ‘n finansiële bydrae te maak, kan die plaaslike Tafelronde voorsitter, Frans Vermaak (regs), skakel by tel. 082 925 1676.

Tafelaars se oop harte laat Corlanie glimlag

 

News  Date: 09 May 2014

 

Die manne van Tafelronde Zoutpansberg 66 het Maandag ‘n tjek van net meer as R14 000 oorhandig aan die jong Corlanie de Vries.

Dit was die wins wat hulle gemaak het uit die onlangse optrede van DJ Ossewa by Laerskool Louis Trichardt ten bate van die Corlanie de Vries Projek.

Die 11-jarige Corlanie, wat by geboorte met pulmonale klep stenose gediagnoseer is, se ouers is verlede jaar gewaarsku dat sy dringend ‘n nuwe hartklep moet ontvang. Corlanie se toestand is ‘n vernouing van die hart se pulmonêre klep, wat veroorsaak dat die bloed nie behoorlik van haar regter hartventrikel na haar longe vloei nie. Derhalwe ontstaan daar ‘n suurstoftekort in Corlanie se liggaam.

Die probleem is egter dat Corlanie se ouers nie ‘n mediese fonds het nie en die klep, wat ingevoer moet word van oorsee af, kos sowat R300 000. Die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria het reeds aangebied om Corlanie se operasie uit te voer en al haar hospitalisasiekostes te dra, mits haar ouers ‘n plan kan maak om die klep te betaal.

“Dit is ‘n druppel in die emmer, maar ons sal kyk of ons deur die jaar nie nog ‘n paar rand vir Corlanie kan insamel nie,” het Frans Vermaak, plaaslike Tafelronde voorsitter, tydens die oorhandiging gesê. Die realiteit is dat die jong Corlanie en haar ouers nog baie duisende rande benodig om die operasie te laat plaasvind. Derhalwe het die plaaslike Tafelronde ‘n beroep gedoen op inwoners wat hul weg oopsien om ‘n finansiële bydrae te maak, om vir Frans te skakel by tel. 082 925 1676. Die skenking sal deur die Tafelronde se rekening geadministreer word.

Die Tafelronde het hul dank en waardering uitgespreek teenoor almal wat gehelp het om DJ Ossewa se optrede op 12 April moontlik te maak. Hulle het ingesluit SAB, Fruit & Veg City, BJ Food Centre, Soutpansberg Koelkamers, LTT Radio & Electrical, Laerskool Louis Trichardt, Dika Dika Jagkamp, Martin’s Funerals, Isis Décor, DJ Ossewa, Mike’s Kitchen, OK Grocer, die Soutpansberg Dorpswag, Elti-Security, Oasis Water en die Zoutpansberger.

“Dankie ook aan elkeen wat ‘n kaartjie gekoop het en die aand saam met ons kom geniet het,” het die Tafelronde gesê.

 

Written by

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines