ADVERTISEMENT:

 

Hannes Kelly (52) van Levubu. Foto verskaf.

Sterf dae ná aanval

 

News  Date: 09 May 2014

 

Die familie van mnr. Hannes Kelly van Levubu is in rou gedompel na sy dood, twee dae nadat hy ‘n wreedaardige plaasaanval oorleef het. 

Hannes (52) is verlede Donderdag, op Werkersdag, deur drie mans met hamers en stokke aangeval, terwyl hy besig was om sy vullis uit te neem. ‘n Vriend van Hannes, mnr. Jaco Vermaak, het vandeesweek gesê die aanval het ongeveer 19:00 plaasgevind. 

Die rowers het Hannes vir dood agtergelaat, nadat hulle hom geforseer het om die kluis vir hulle oop te maak en al sy geld en selfone geroof het. Hannes was die eienaar van die Beaufort-winkel wat hy bedryf het van sy plot af. Die winkel was ‘n familiebesigheid wat sy ouers, Hans en Poppie Kelly, in die 1950's begin het, en waarvan Hannes latere jare die bestuur by hulle oorgeneem het.

Provinsiale polisiewoordvoerder kol. Ronél Otto het bevestig dat die rowers weggekom het met sowat R20 000.

Hannes se broer, Hendrik, wat in Rustenburg woon, is eers Saterdag laat weet van die aanval. “Hannes het gesukkel om kontaknommers in die hande te kry, want al sy selfone is gesteel. Op ‘n manier, ons weet nie hoe nie, het hy darem vir Jaco kon bel en so het ons uitgevind en dadelik deurgery,” het Hendrik gesê. Hy was Maandag in Makhado (Louis Trichardt) waar hy sy bejaarde ma, tannie Poppie (87), ‘n inwoner van Laat Lente, bygestaan het. “My ma is verpletter oor Hannes se dood,” het Hendrik gesê.

Hendrik en sy vrou, Belinda, was geskok toe hulle sien hoe gedisoriënteerd Hannes was. “Hy het erg gelyk en het deurmekaar gepraat,” het Hendrik vertel.

Hannes het vir Hendrik vertel wat gebeur het tydens die aanval en dat hy een van sy aanvallers herken het. Hy het ook vir Hendrik vertel dat hy daarin kon slaag om self na die polisie te ry, waar hy 'n saak gaan oopmaak het. Ná hy by die polisie was, is Hannes na die Tshilidzini Hospitaal waar hy glo weggewys is, omdat die hospitaal nie water gehad het om hom te behandel nie. 

Teen Sondag het Hendrik besluit om eerder vir Hannes, wat steeds gedisoriënteerd was, na die Louis Trichardt Gedenkhospitaal te bring. “Ek was bang dat hy inwendig seergekry het of dalk bloeding op die brein gehad het, en wou gehad het die hospitaal moes hom help,” sê Hendrik. Dit was, volgens Hendrik, ‘n gesukkel om die dokters by die hospitaal te oortuig dat Hannes veel ernstiger beseer is as wat dit op die oog af gelyk het. 

‘n Ambulans is gereël om Hannes na die Pietersburg Provinsiale Hospitaal te vervoer vir ‘n skandering. Terwyl Hendrik saam met Hannes gewag het vir die ambulans, het Hannes asemhalingsprobleme ontwikkel en inmekaargesak. Hy het net daar gesterf.

Hendrik het Hannes as ‘n stil, eenkant mens beskryf, wat altyd ander gehelp het waar hy kon. Hannes was ongetroud en het nie kinders gehad nie en word oorleef deur sy ma en nog twee ander broers.

Hannes sal Vrydag om 11:00 vanuit die Gereformeerde Kerk op Makhado (Louis Trichardt) begrawe word. “Dié plaasaanval is een van verskeie wat inwoners van Limpopo teister. Hannes sal onthou word deur sy familie en vriende,” het Jaco gesê.

Intussen het die polisie bevestig dat die aanval op Hannes ondersoek word. Teen druktyd is daar nog niemand in hegtenis geneem nie.

Die Limpopo Departement van Gesondheid (DoG) is genader oor Tshilidzini Hospitaal se beweerde wegwysing en het Dinsdag bevestig dat hulle Hannes as ‘n ongevalle pasiënt behandel het. Die woordvoerder van die DoG, me. Adelé van der Linde, het erken dat die hospitaal van tyd tot tyd sukkel met waterprobleme, maar bygevoeg dat ‘n pasiënt nog nooit in die verlede as gevolg daarvan weggewys is nie.

Van der Linde het bevestig dat Hannes op 2 Mei om 00:15 behandel is in die Tshilidzini Hospitaal se ongevalle eenheid. Hannes het, volgens sy lêer, gekla van pyn in sy linkerskouer en daar is X-strale geneem van sy skouers, bors en abdominale area. “Geen abnormaliteite of swellings kon bespeur word nie,” het Van der Linde gesê.

Hannes is behandel en ekstra anti-inflammatoriese en pynmedikasie gegee, voordat hy ontslaan is. “Die departement simpatiseer met mnr. Kelly se familie en vriende – mag hulle berusting vind in hierdie moeilike tyd en mag die polisie vinnig ‘n arrestasie maak,” het Van der Linde gesê.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines